Man ernstig na panga-aanval

‘n Man is ernstig beseer toe hy Vrydag met ‘n panga deur ‘n medewerker by ‘n vervoerbesigheid op Silkaatsnek aangeval is.

Twee werkers by die besigheid het glo in ‘n struweling betrokke geraak waarna een ‘n panga gaan haal het en die ander aangeval het. Die slagoffer se arm is tot op die been oopgekloof.

Afriforum Brits-buurtwag en Aequitas-sekuriteitsdienste is na die toneel na hulp op ‘n noodgroep gevra is. Die aanvaller het gevlug en is deur buurtwaglede en sekuriteitsbeamptes die veld in gevolg. Die aanvaller het homself oorgegee en het die wapen, wat hy in die veld weggegooi het, uitgewys.

Mmakau polisie is na die toneel ontbied en het die aanvaller in hegtenis geneem. Aequitas sekuriteitsbeamptes het die beseerde man op die toneel versorg tot ‘n ambulans opgedaag het.