Brand verwoes voertuie op plaas

‘n Weghol-veldbrand het Vrydag derduisende rande se skade aangerig toe dit na ‘n plaas buite Brits versprei het en ‘n ontploffing van oliedromme veroorsaak het.

‘n Vragmotor in ligte laaie.

‘n Vragmotor en bakkie het na die ontploffing aan die brand geslaan en is deur die vlamme verwoes.

Volgens Thys van Heerden, voorsitter van die Afriforum Brits-buurtwag, het die brand langs ‘n pad by die plaas begin en vinnig na die plaas versprei. “Dit het oliedromme bereik wat begin brand en ‘n ontploffing veroorsaak het.”

Die brandweer in Brits het nie ‘n brandweerwa tot beskikking gehad nie en boere in die gemeenskap, Afriforum buurtwaglede, en lede van die publiek het ingespring om die brand met ‘n waterkar en tuinslange te blus.

“Gelukkig kon die brand geblus word voor ‘n nabygeleë stoor aan die brand kon slaan.”