Skole hou muntleggings vir verbrande leerder

Drie skole het verlede week muntleggings gehou om te help met die mediese kostes van Die Hoërskool Wagpos-leerder wat kritiek in die hospitaal is na sy van ‘n bakkie in ‘n veldbrand geval het.

Elisma Wilken

Die 14-jarige Elisma Wilken het sowat 70% ernstige brandwonde oor haar lyf opgedoen en word tans onder sedasie gehou. Elisma het reeds verskeie prosedure in die teater ondergaan om die brandwonde skoon te maak en te behandel.

“Haar ma het ons Vrydag laat weet dat dit nou beter gaan na dokters verlede week geê het hulle is bekommerd oor haar toestand na sy koors ontwikkel het. Hulle het probeer om haar stelselmatig wakker te maak, maar het haar weer onder sedasie geplaas weens haar reaksie,” het Daan Neethling, hoof van Die Hoërskool Wagpos dié week gesê.

Elisma het van haar pa se bakkie afgeval en in die vlamme beland terwyl hulle besig was om ‘n veldbrand te bestry.

Die skool, asook Hoërskool Brits en Meerhofskool in Hartbeespoort, het verlede week muntleggings gehou om fondse in te samel om met Elisma se mediese ontkoste te help. Volgens Neethling het die skool meer as R14 000 ingesamel. Hoërskool Brits het ook byna R14 000 ingesamel.Neethling het die skole bedank vir hul omgee en bystand vir Elisma.

Mense wat wil bydra tot die Elisma-fonds, kan Die Hoërskool Wagpos kontak.