Hartbeespoort se eie sepiester in lyn vir gesogte toekenning

Hartbeespoort se geliefde sepiester, Erik Holm is in lyn vir ‘n gesogte Royalty Soapie-toekenning.

Erik Holm – die ‘villian’

Erik, wat die rol van die slinkse Rian Malherbe in Binnelanders speel, is genomineer in die ‘Outstanding Male Villain’-kategorie en sal meeding teen akteurs soos Dirk Stoltz van 7de Laan, Vusi Kunene van Generations en nog ander bekende akteurs.

“Man, my tone krul van lekkerte om as die beste ‘villian’ genomineer te word. Dit is die lekkerste ding om ‘n skelm te speel, en om nou in dieselfde geselskap van ons sepies se gootste skelms te wees, is ‘n eer. My kanse teen hierdie groot geeste? As ‘n ‘villian’ is daar altyd ‘n kans dat ek van een of twee ontslae kan raak,” lag hy.

“Ek is vreeslik in my noppies oor die nominasie. Dit is ‘n mooi ding om deel van te wees.”

Buiten sy nominasie in dié kategorie, is daar ook ‘n kans om die toekenning te ontvang vir die die beste akteur in die Kykerskeuse-kategorie. Sepiekykers kan vir die sepiester van hul keuse stem en boonop ‘n kans staan om skouers te skuur met Suid-Afrika se bekendste sepiesterre tydens die 5th Royalty Awards- rooitapytgeleentheid op 18 September by die Radisson Hotel & Convention Centre.

“Stem, stem, stem… asseblief! Sodat ek ook so ryk soos die skelm Rian kan word,” vra Erik.

Stem vir Hartbeespoort se eie ‘villian’ deur 12032020*2# te skakel. Stem voor 14 September. Die gelukkige kyker wat die geleentheid bywoon, sal op 17 September aangekondig word. Die toekenningseremonie word op 2 Oktober om 20:00 op SABC 1 (DStv 191) uitgesaai.
Gryp daai foon en stem nou vir Erik.
Maak hom ‘n groter ster!