Geliefde raadslid oorlede

Die alombekende and geliefde raadslid, Renier Breytenbach het Sondag sy stryd teen kanker verloor en is in die ouderdom van 65 oorlede.

Renier Breytenbach

Renier was die afgelope 15 jaar ‘n hardwerkende DA-raadslid in the Madibeng munisipaliteit, belas met finansies. Voorheen het hy in die tesourie-afdeling van die destydse Oorgangsraad van Birts gewerk.

Kollegas en gemeenskapslede het die afgelope week huldeblyke aan hom gebring.

“Renier was nie net ‘n hardwerkende kollega nie, maar ‘n goeie vriend. Hy was ‘n persoon wat geluister het voor hy sy mening gegee het. Ons sal Renier, die ‘gentleman’ onthou en mis,” sê skaduminister van water en sanitasie, Leon Basson.

Martiza du Plessis, ‘n raadslid in Hartbeespoort: “Die wêreld is armer sonder Renier. Hy was een van die mees opregte mense wat ek ken. Altyd reg met ‘n grappie en ‘n smile. Ek gaan hom ongelooflik mis.”

Erna Rossouw, raadslid: “Dis met groot hartseer dat die DA in Madibeng vir Renier Breytenbach groet. Renier was ‘n hardwerkende, toegewyde en sagmoedige mens met ‘n groot omgee-hart vir sy medemens. Hy was altyd bereid om die ekstra myl te loop om almal te help, en dit met ‘n glimlag op sy gesig en ‘n grappie om almal anders se dag op te helder. Ons groet hom in die bekende woorde van Jan FE Cilliers, “Stil, broers, daar gaan ‘n man verby, hy groet, en dis verlaas. Daar’s maar nog een soos hy bekyk hom goed. Rus in vrede liewe vriend en kollega!”

Eddie Barlow, DA-koukusleier in Madibeng: “Renier sal baie gemis word. Sy kennis van finansiële sake was indrukwekkend. En hy sal altyd vir sy sin vir humor onthou word. Dikwels as ons in ‘n langasem-vergadering was, het hy sy hand opgesteek en gesê: “Luister, ek weet nie van julle nie, maar ek het ‘n mooi vrou by die huis en ek moet nou huis toe gaan.’

Renier laat sy vrou, Susan, dogter, Hermien en seun, André na. ‘n Gedenkdiens is Woensdag in die Hervormde Kerk in Schoemansville gehou.