Dominie skryf ‘n boek

“Ek het nooit gedink ek sou ‘n boek skryf nie. Ek het Afrikaans en Engels op skool op my basvelle deurgeskuur. Maar nou ja, ek het ook nooit gedink ek sou ‘n predikant word nie!”


Hartbeespoort se geliefde ds Anton van Zyl van die gewilde Kuierkerk se eerste pennevrug, ‘Van Kakiebos tot Kremetart’, is by die drukkers en sal teen die einde van maand op die rakke wees. “My vrou (René van Zyl) is die skrywer en om te skryf was nou rêrig nie in my lewensbeplanning,” lag hy.
Dit het uit die bloute gekom. ” Ek was in Maart 2020 saam met René na die Woordfees in Stellenbosch waar die skrywers hul boeke bekend gestel het. So naby die tente waar hulle praatjies aangebied het, was die biertuin en ek het myself daar tuisgemaak. So met die tyd het ek gesien die nie-fiksie tent kry meer aftrek. Realiteit en lewensverhale blyk deesdae meer gewild te wees. Om die tyd te verdryf het ek later die program en die opsommings van die boeke begin lees. Die nie-fiksie was maar meerendeels net mense se lewensverhale en toe dink ek ek kan net sowel my verhaal vertel.” Die gedagte het vasgesteek en kort na hulle terugkeer, is die eerste harde inperking aangekondig. “Die eerste dag van niksdoen was lekker, en na die daaropvolgende dae van motorhuis regpak ens, het ek besluit om die boek te probeer skryf. Toe ek eers begin, het die boek soos stroop gevloei. Dit het net gebeur. Ek was verbaas. Ek het elke dag ‘n hoofstuk van ongeveer 2 500 woorde geskryf en die aand het René geproeflees. En toe die vyf weke van inperking verby is, is my boek klaar!”
Die boek is vertellings uit ds Anton se lewe. “Ek het ‘n kleurvolle lewe gehad, dit regverdig ‘n boek,” lag hy. Ek dink dit is eerder ‘n memoir as ‘n outobiografie. Daar is 47 hoofstukke, elk met sy eie tema. Dit is eintlik ‘n emosionele reis oor my eie sielkundige wroeging en die proses om vrede te maak met my letsels en tekortkominge. Ek het ook ‘issues’ gehad en ek het gewonder waar dit vandaan kom. Ek was tog nie nie mishandel nie. … Maar ek het vrede met myself gemaak.”
Sy lewe was gewis vol “wendinge” soos hy dit beskryf. Wie het byvoorbeeld geweet Anton het ses grade? ‘n Hele paar daarvan meestersgrade. Of dat hy eers ‘n ingenieur vir Eskom was? En dat hy ‘n geskiedenis ‘nut’ is met ‘n passie vir kennis oor die ontstaan van beskawings?
Hy skryf met eerlikheid en introspeksie oor van die traumatiese gebeure in sy lewe soos sy gestremde seun wat breinskade weens ‘n virus opgedoen het, en sy wegbreek van die NG Kerk. “Ek het die geraamtes uit die kas gehaal. Daar gaan seker mense wees wat met ander oë na my kyk. My vrou is bang ek gaan nie gemeentelede oorhê as die boek uitkom nie!” lag hy.
Is daar nog ‘n boek in die vooruitsig? “As ek so na René kyk en die hele proses om ‘n boek gepubliseer te kry met die uitgewers, wil ek nie daar naby kom nie. Ek het ‘Van Kakiebos tot Kremetart’ self uitgegee want ek het nie geduld om te wag nie. Ek sal graag wel eendag n geloofsboek wil skryf met my eie weergawe van die kerk en geloof. Of dalk my preke in ‘n boek saamvat. Niks van my preke kom van êrens anders af nie, net uit my hart.”

Ds Anton van Zyl haal geraamtes uit die kas in sy eerste pennevrug.