Plek van die vergetenes

“Die familie laai hulle af en dan sien ons hulle nie weer nie. Dit is ongelukkig die geval by meeste van ons inwoners. Dit is die vergete oumense waarna ons kyk…”

Andrew Wessels (middel) saam met Fransina Grobler en Blessing Mtisi (3)


Andrew Wessels is aan die stuur van die Manger Marine Sorgsentrum in Kameeldrift by Hartbeespoort waar sowat 80 bejaardes en verstandelik gestremdes versorg word. “Dit is ‘n hawe vir haweloses en ons probeer om vir elkeen ‘n lewe en ‘n doel te gee.”
Die sorgsentrum is ‘n affiliaal van die Manger Care-organisasie wat 34 jaar gelde deur Pastoor Retha Teitge gestig is. Teitge was nou betrokke by kinderwelsyn, ook in Hartbeespoort en die groot behoefte vir ‘n hawe vir vergete bejaardes raakgesien. Die sentrum in Kameeldrift se deure het 28 jaar gelede geopen.
“Hoe beskryf ek die sentrum? Ons is ‘n hegte gemeenskap. Ons kyk na mekaar. Natuurlik is hier mense wat nie hier wil wees nie. Hulle is hier “gedump”. Dit is moeilik. Dit is ‘n plek van trauma en baie hartseerstories, maar dit is ‘n tuiste vir diegene wat nêrens het om heen te gaan nie. En ons poog om elkeen ‘n doel te gee om op te staan,’ sê Andrew. Dit is dan ook hoekom elke inwoner sy daaglikse take het waarvoor hy verantwoordelik is. Hulle help kos kook, groentetuin bewerk, tuininstandhouding… iets om voor op te staan. Daar is drie etes per dag, ‘n skoon kamer en bed, ‘n verpleegkundige wat weekliks na hul gesondheid omsien, skoon klere en vervoer na klinieke en hospitale.
Die sentrum, onder groot skadubome, is netjies, skoon en lyk meer soos ‘n aftreeoord as ‘n welsynsorganisasie, en die minder as ‘n handvol personeel, saam met die inwoners wat kan, werk saam om sover moontlik selfversorgend te wees.
“Dit kos ongeveer R4 000 per maand om ‘n persoon te versorg. Verblyf vir inwoners kos R1 400, maar sluit alles in. Ons moet dus addisionele inkomste genereer om in al ons inwoners se behoeftes te voorsien.” Een van die projekte is die sentrum se florerende groenteboerdery.
“Ons het aanvanklik begin met ‘n groentetuin om selfversorgend te wees. Sowat vyf jaar gelede het ons besef ons kan nie net op skenkings staatmaak nie. Een tonnel het vermeerder na vier en ons hoop om ‘n vyfde op te rig met donasies van materiaal. Skielik het ons ‘n oorskot gehad en ons kon daarmee ‘n inkomste genereer. Ons droom is om dit op so skaal te kan doen sodat ons aan kettingwinkels kan voorsien. Ons is hoofsaaklik van donasies afhanklik en ons sal graag op ons eie bene wil staan. Dit is die droom en ons vertroue en glo dit kan waar word.”
Een van die inwoners, Fransina Grobler, is in beheer van die groentetuin. “Nee, ek is nie ‘n boer nie en ek het nooit voorheen geplant nie. Ek het nie ‘n keuse gehad nie, maar nou is dit vir my baie lekker. My hart word bly as ek sien hoe iets groei wat ek geplant het. Mens sien die Here se handewerk,” sê sy.
Die sentrum sou graag ‘n veiligheidsheining wou oprig sodat hulle ook skape kan aanhou. “Veediefstal is egter ‘n groot probleem. Ons werk hard om dit ‘n werklikheid te maak en hopelik sal ons hulp kry. Dit sal wonderlik wees as ons gemeenskappie hier by die sentrum volkome na onsself kan kyk. Dit sal opnuut nuwe lewe in almal hier se lewens blaas.”
Die Manger Marine Sorgsentrum mag wel ‘n hawe vir haweloses wees, maar dit is ook ‘n plek van hoop, van droom en van moontlikhede.”
Enigeen wat die sentrum wil help om hul drome te bewaarheid, kan Andrew by 082 788 4722 kontak.