Hartbeespoort-skeidsregter se Dubai-reis van die baan

Bekende Hartbeespoort-inwoner, Werner Nagel, is diep teleurgesteld na sy reis na Dubai om as skeidsregter by die internasionale Dubai Invitational Sewestoernooi op te tree, op die laaste nippertjie gekanselleer moes word.

Werner Nagel

Dit volg na verskeie lande verlede week besoekers van Suid-Afrika verbied het weens die nuwe Covid-19-variant.

“Ons was reg om Maandag te vlieg en toe hoor ons Vrydag ons visas is teruggetrek en die aand toe kom die nuus ons vlug is gekanselleer.”

Werner is een van 13 Suid-Afrikaanse skeidsregters wat Maandag na Dubai sou vertrek om dié week op Dubai se rugbyvelde rond te hol tydens dié internasionale rugbytoernooi. “Ek het baie uitgesien na die toernooi. Dit was ‘n groot eer om gekies te word. Die pandemie het die afgelope twee jaar sport gekelder, en hierdie was ‘n groot geleentheid om weer tot die sportwêreld terug te keer.”

Werner is die afgelope 20 jaar ‘n skeidsregter vir die Blou Bulle en die afgelope twee jaar by die Sewes. Hy het die afgelope twee maande hard geoefen om fiks te word. “Dit is ‘n heel ander ‘ball game’. Dit is baie vinnig en mens moet fiks wees. Op een dag blaas jy 12 wedstryde. Dis ‘hectic’ en jy weet nie vooraf vir wie jy blaas nie. Maar dit is heerlik en die Dubai-toernooi is ‘n wonderlike ondervinding. Maar nou ja, ‘next time’,” sê hy.