Kuierkidz hou gradeplegtigheid

Tydens ‘n onlangse ‘Glam & Glits’-aand het die leerders van Kuierkidz leersentrum in Hartbeespoort elk ‘n sertifikaat gekry en is met ‘n hoed en tossel vereer vir die jaar se harde werk.

Isaac Mngomezulu (versorger), Reuben van Coller (leerder) en Martha Kedibone (tutor)

Die skoolhoof, René Veertjie Coetzee, het tydens die verrigtinge elke leerder uitgesonder en vertel van elkeen se unieke eienskappe en gawes. Die ouers en vriende van die kinders is met heerlike eetgoed bederf en het die spesiale aand met ‘n traan in die oog geniet.

Dié sentrum stap ‘n lang pad en het die afgelope twee jaar ‘n moeilike tyd gehad om hul deure oop te hou. Daar was finansiële probleme as gevolg van Covid-19 en ‘n verdere terugslag toe die skool sy perseel moes ontruim. Ds Anton van Zyl van Kuierkerk het dadelik aangebied om ‘n gebou op sy perseel op te rig wat as tydelike basis kan dien vir die sentrum. Dit het binne ‘n maand of drie gebeur en toe die kinders in Januarie hulle nuwe skool betree, was alles slaggereed vir 2021.

Veertjie het ook tydens die gradeplegtigheid die hele gemeenskap bedank vir al die oop hande en liefde wat hulle al die jare ontvang het. Daar is tans dertien kinders van verskillende ouderdomme en gestremdhede by die sentrum asook elf tutors wie se liefdestaak die kinders se lewens verryk. Die plan is om so gou moontlik ‘n oorslaapfasiliteit te begin om vir kinders ook ‘n langtermyn toekoms te kan bied vir wanneer ouers nie meer in staat is om na die kinders om te sien nie. Die droom is om eendag ‘n eksklusiewe perseel te hê waar hierdie kinders ‘n veilige toekoms kan hê.

Ouers van nuwe leerders vir 2022 kan vir René Coetzee kontak by 082 789 2572 of by kuierkidz101@gmail.com per e-pos. Sy is ‘n afgetrede skoolhoof met baie ervaring en opleiding in kinders met spesiale behoeftes. Ook doen sy self al die evaluerings. Sy werk vir elke kind ‘n persoonlike oefen- en leerprogram uit om die beste moontlik uit elkeen te kry.