Drinkwater skoon, maar rioolsuiweringsaanlegte stink

Brits en Hartbeespoort se drinkwater is skoon, maar hulle rioolsuiweringsaanlegte voldoen nie aan die mikrobiologiese standaarde nie, het Afriforum se nuutste blou-en-groendruppeluitslae getoon.

Sias Woite van Afriforum neem ’n watermonster.

AfriForum het van vanjaar verskeie dorpe in die Noordwes se water getoets om die gehalte van dié dorpe se drink- (bloudruppelstatus) en rioolwater (groendruppelstatus) te bepaal.

“Ons kon vasstel dat die meeste van Noordwes se dorpe se drinkwater aan die minimum standaarde voldoen en geen skadelike bakterieë bevat nie. Daar was enkele dorpe waarvan die nitraatvlakke in die drinkwater effens hoog was, maar die probleem is onder die loep geneem. AfriForum sal die watergehalte deurlopend toets, want inwoners het ’n grondwetlike reg tot skoon drinkwater,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Volgens AfriForum se groendruppeluitslae voldoen 21 rioolsuiweringsaanlegte wat getoets is, nie aan die gestelde mikrobiologiese standaarde nie. Brits en Hartbeespoort twee van dié aanlegte.

Die burgerregteorganisasie het sy kommer uitgespreek oor die rioolsuiweringsaanlegte binne die munisipaliteite waarvan die rioolwater nie aan die gestelde standaarde voldoen nie. “Ons sal die nienakoming verder ondersoek en optree waar nodig,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

“AfriForum se nasionale blou-en-groendruppelprojek fokus op die stand van dorpe se drinkwater- en rioolaanlegte. Dié projekte fokus nie noodwendig op die toestand van die aanleg self nie, maar wel op die gehalte van die water wat ná die proses as eindproduk in die vorm van drinkwater en behandelde rioolwater gelewer word,” sluit Coetzee af.

AfriForum versoek elke jaar dat die Departement van Water en Sanitasie (DWS) weer ’n blou-en-groendruppelverslag bekend maak en verwelkom dus dat die Departement vroeër vanjaar bekend gemaak het dat hulle weer die blou-en-groen-druppelverslag gaan opstel om sowel die waterkwaliteit as infrastruktuurkwaliteit in die land te bepaal.

AfriForum versoek inwoners van Noordwes om aan dié organisasie die mandaat te gee om die gehalte van water voortdurend te moniteer. SMS “Skoon water” na 45344 (R1) en steun hierdie aksie.