Bekende omroeper oorlede

Die veteraan radio-omroeper, Theo Conradie van Hartbeespoort, is Saterdagaand oorlede na hy die stryd teen kanker verloor het. Hy was 70 jaar oud.

Theo Conradie

Theo is twee maande gelede met longkanker gediagnoseer.
Theo was vir baie jare ‘n omroeper by Jacaranda 94.2 en sy stem was die laaste paar jaar ‘n bekende op Bosveld Stereo. Bosveld Stereo het op 3 Januarie aangekondig dat Theo in die hospitaal is en nie meer sal uitsaai nie. Hy is ‘n paar dae later oorlede.

Huldeblyke en medelye is die afgelope week wyd op Facebook geplaas. Die bekende Jacaranda 94.2-omroeper, Martin Bester, het op Facebook geskryf “So jammer en bitter hartseer om te hoor dat Theo Conradie oorlede is! Hy het oor die jare altyd kontak behou, gehoor hoe dit gaan, belang gestel in wat ons doen by Jacaranda 94.2. Ons het laas op sy verjaarsdag gepraat en onlangs met die stasie se 35ste verjaarsdag. Hy was ‘n legende in die uitsaaibedryf en een van die omroepers wat Jacaranda gemaak het wat dit vandag is. Een van die eerste dinge wat ek van hom geleer het, is dat hy die grootste Beegees fans is! Sal nooit vergeet hoe happy hy was toe hy hulle ontmoet het nie! Jou mikrofoon is af, maar jou stem sal ek onthou.”

Bosveld Stereo het op sy Facebook-blad hulde aan Theo gebring . “Dit is met leedwese dat ons moet laat weet dat Theo Conradie gisteraand oorlede is. Die Voorsitter van Bosveld Stereo se Direksie, Graat Pelser, voel baie bevoorreg dat Theo Conradie by Bosveld kon uitsaai tot hy siek geword het. Ons dink aan sy familie en vriende. Hy was ‘n puik omroeper. Ons is baie hartseer. RIV Theo.”