Fondsinsameling vir gesin na gru-ongeluk

‘n Ma het haar been verloor en haar 12-jarige dogter sal moontlik ‘n knievervanging moet kry na ‘n gru-ongeluk in Hartbeespoort in Desember.

Petrus (37) Branford en sy vrou Vera (33) en hul drie kinders Odette (12), Chante (9) en Desmond (1) van Brits was op 26 Desember op pad terug na Brits op die R514 (Van der Hoffweg) toe hulle met ‘n motor wat by die Silkaatsnek-kruising gedraai het, gebots het. Die bestuurder van die ander motor is op slag dood.

Die Branford’s se motor het weens die impak gerol en Vera en baba Desmond het deur die windskerm uitgeval. Die gesin het almal beserings opgedoen, maar Vera en Odette is ernstig beseer, “Hulle is aanvanklik in die Brits Hospitaal opgeneem en daarna na die Garankuwa Hospitaal oorgeplaas waar Vera se been geamputeer is. Haar en Odette se wonde het septies geraak en die familie het gereël dat hulle na die Sunshine Hospitaal in Benoni oorgeplaas word,” sê Jane Wagener, Petrus se suster.

Petrus en Vera is werkloos. “Petrus was agt jaar gelede ook in ‘n ongeluk waartydens hy breinskade opgedoen het. Hy kan nie werk nie. Vera sou vanjaar ‘n werk kry, maar toe gebeur die ongeluk. Ons probeer nou fondse insamel om hulle te help. Odette het ook ernstige beenbeserings opgedoen en ‘n lang pad na herstel wag nog vir albei.

Om geld in te samel word daar nou lootjies verkoop vir ‘n vyf-dae-vakansie by Umtentweni in KwaZulu-Natal, asook ander pryse. Kaartjies kos R100.

Vera en Petrus Branford en hul kinders, Odette, Chanté en Desmond.

‘n Prokureur is aangestel om die bankrekening vir die gesin te bestuur.
Vir ‘n kaartjie om in aanmerking te kom vir die seevakansie, kan R100 in die volgende bankrekening inbetaal word: Capitec 1367230835, gebruik naam en van as verwysing.