Kat gered na vyf dae in pyp

“Ek kon nie slaap nie. Ek het geweet die kat sit vas en is honger en ons kon hom nie uitkry of iemand kry om te help nie. Ek was later desperaat.”

Inge Ferreira, Janine Esterhuizen en Batman

So sê Inge Ferreira (72) wie verlede week ‘n vasgekeerde kat in ‘n stormwaterpyp op haar eiendom in Melodie ontdek het.

Die kat, genaamd Batman, is Saterdag na hy vyf dae in ‘n stormwaterpyp vasgesit het, uiteindelik gered.

“My Jack Russell-hondjie, Taffy, het verlede Maandag by die pyp in die hoek van my erf begin blaf en grawe. Ons het gedink daar is dalk ‘n slang in die pyp. Ek het selfs op ‘n stadium my hand ingedruk om te voel, maar kon niks voel nie. Sy geblaf het later so erg geword, ek het hom in die huis gehou. Woensdagnag toe ek hom uitvat, toe hoor ek die hartseer miaau van ‘n kat uit die pyp kom. Ek het ‘n rugprobleem, maar ek het dit reggekry om op die grond te gaan lê met ‘n flits en toe sien ek die katgesiggie. Hy het vasgesit in die elmboog waar die pyp draai.”

Inge het die kat probeer voer, maar hy kon nie eers sy kop om die draai kry om te eet of water te drink nie. “Ek het die volgende dag hulp probeer kry, maar niemand wat ek gekontak het kon help nie. Teen Saterdag was ek desperaat en ek soek toe op Facebook en kry ‘n plasing van iemand se swart kat wat weg is en toe is dit dieselfde kat.”

Die kat, genaamd ‘Batman’ behoort aan Janine Esterhuizen, wat in ‘n nabygeleë kompleks in Melodie woon. Batman het verlede Maandag vanaf die gesin se huis verdwyn en Janine het die hele week naarstiglik na hom gesoek. “Ek het Harties Feral Cat Rescue gekontak en hulle het Batman op Facebook-groepe geplaas. Ek het elke dag by verskillende wildekatkolonies gaan roep en kyk of ek dalk vir Batman sien. Ek toe kry ek Saterdagoggend n oproep van tannie Inge af. Toe ek by die pyp inloer en roep, het Batman onmiddellik reageer. Ek was so bly!”

Dit was egter nie die einde nie. ‘n Moeilike reddingspoging het voorgelê. Die pyp was vasgebou aan Inge se kant en het deurgeloop na ‘n ander kompleks. Hulle het probeer om die pyp oop te breek, maar kon steeds nie by Batman uitkom nie. Na sowat twee ure se gespook, het die eienaars van die eiendom in die buurkompleks aangebied dat hulle vanuit sy erf probeer. “Ek het my oupa se beitel, wat ek geërf het, vir Janine en haar man gegee om die pyp te takel,” lag Inge. Die Ferreiras kon daarin slaag om die pyp van die ander kant af oop te kry en kort daarna is Batman uit die pyp getrek.

“Sy naels is ‘n bloederige spul soos hy probeer uitkom het en sy voorbene se vel is deurgeskuur, maar andersins is hy gesond. Hy is nou by die veearts sodat sy wonde behandel kan word. Ons is so dankbaar vir tannie Inge. As dit nie vir haar was nie, sou Batman in die pyp doodgegaan het,” sê Janine.

“Dis nie ek nie, dit is alles aan Taffy te danke. As dit nie vir hom was nie, sou ons nooit vir Batman gekry het nie,” sê Inge.