Kindermishandelingsaak weer uitgestel

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het Maandag sy skok uitgespreek oor verwikkelinge in een van die kindermishandelingsake in Brits waarby die eenheid tans betrokke is.

Advokaat Gerrie Nel

Dit volg nadat die hof weereens die saak uitgestel het teen twee mans, asook die ma van ’n jong dogtertjie. Die beskuldigdes staan tereg op verskeie klagtes van verkragting van die dogtertjie wat ten tyde van die pleging van die beweerde misdaad in 2018 vier jaar oud was.

Die uitstel volg omdat die streeklanddros volgens die hof siek is en niemand skynbaar in haar plek kan waarneem totdat sy herstel het nie. Die saak kon ook nie tot Februarie uitgestel word nie omdat die streeklanddros waarskynlik na Ga-Rankuwa oorgeplaas gaan word en daar nog geen nuwe aanstelling gedoen is nie. Die voorsittende landdros kon nie met die streekhofpresident kontak maak om vas te stel wanneer daar weer ’n landdros beskikbaar sou wees nie.

“Dit blyk dat die Staat se sogenaamde verbintenis tot die bevegting van geweld teen vroue en kinders nou finaal lippediens geword het. Hóé kan die Departement van Justisie en die howe toelaat dat hierdie saak van gruwelike kindermishandeling, wat as gevolg van die onbeholpenheid van die NVG reeds so lank sloer, nie kan voortgaan nie bloot omdat daar nie ’n hof beskikbaar is nie en geen verdere reëlings getref is nie,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Volgens Nel is hierdie geval tekenend van die verval van ons strafregstelsel en dit is ’n skande dat die slagoffers van misdaad as gevolg daarvan geregtigheid ontsê word. “Ons het te doen met ’n slagoffer wat vier jaar oud was tydens die beweerde voorvalle en nou, ná drie jaar, steeds nie daaroor kon getuig nie. Dit plaas onnodige druk op kinders om ná so ’n lang tydsverloop getuienis te moet gee oor iets wat so traumaties was,” sê Nel.

Verder het die privaatvervolgingseenheid in November 2021 Adv. S Mzinyathi, die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) in Pretoria, se bevestiging aan die eenheid dat hierdie saak aan senior aanklaers by die Pretoria-Noord landdroshof oorhandig is, verwelkom. Op 9 Desember 2021 het die aanklaer in Brits egter aangedui dat sy nie bewus was van die DOV se opdrag nie en die beskuldigdes se prokureur was ook nie by die hof nie, omdat hy na bewering COVID-19 onder lede gehad het. Die saak is op daardie geleentheid na vandag uitgestel om ’n verhoordatum te bepaal.

“Op ’n onverklaarbare wyse het die opdrag van die DOV klaarblyklik verander en sal ’n advokaat van die kantoor van die DOV die saak in Brits vervolg. Soos voorspel in Desember 2021 het die onbeholpenheid van die vervolgingsgesag nou ’n verdere vertraging tot gevolg gehad. Die privaatvervolgingseenheid verwelkom die feit dat ’n staatsadvokaat aangewys is om die saak te vervolg en sal die verdere verloop van die saak monitor,” sê Nel.

’n Voorlopige voorverhoordatum is nou vir 23 Maart 2022 vasgestel.