Skote klap toe rowers sigarettrok storm

Verskeie skote het geklap toe rowers Maandagoggend ‘n supermark in De Wildt gestorm en ‘n sigaretafleweringswa beroof het.

Die afleweringstrokkie, vergesel van ‘n sekuriteitsvoertuig het ongeveer 09:00 by die Overland Supermark op die R513 in De Wildt gestop om sigarette af te lewer. “Terwyl die bestuurder en sy passasier in die winkel was om die sigarette te oorhandig, het hulle skote buite gehoor. Hulle het saam met die kassier weggekruip,” het polisiewoordvoerder, Maria Nkabinde gesĂȘ.

Die rowers het op die sekuriteitsvoertuig geskiet en al die sigarette in die afleweringsvoertuig gebuit voor hulle gevlug het. Niemand is beseer nie en die verdagtes is nog op vrye voet.

“Enigeen wat die polisie kan help met inligting om die verdagtes aan te keer, word versoek om adjudant-offissier Emily Mahlangu van die Mmakau polisie se speurtak te kontak by 082 373 9606.