Predikant in hof vir beweerde verkragting van minderjarige

‘n Predikant van ‘n kerk buite Brits is Maandag in die Brits-landdroshof op R2 000 borgtog vrygelaat na hy op aanklagte van verkragting van ‘n minderjarige en seksuele aanranding verskyn het.

Die 48-jarige beskuldigde, wat meer as 10 jaar ‘n leraar by die betrokke kerk is, is op 27 Januarie in hegtenis geneem. Volgens luitenant-kolonel Ananda Funani, is die slagoffer die man se aangenome seun wat na bewering van die ouderdom van 14 tot 17 deur die beskuldigde seksueel aangerand is. Die slagoffer is nou 21. Die polisie het op selfone en skootrekenaars beslag gelê.

Die predikant het op 29 Januarie vlugtig in die Brits-landdroshof verskyn op aanklagte van seksuele aanranding en poging tot verkragting. Met sy volgende verskyning op 4 Februarie is die klagtes verander na verkragting en seksuele aanranding. Die saak is toe na Maandag, 7 Februarie uitgestel vir ‘n formele borgtogaansoek. Hy was sedert 27 Januarie in aanhouding.

Sy regsverteenwoordiger, Werner Bruyns, het Maandag in die hof aangevoer dat die beskuldige geen vorige veroordelings of hangende sake teen hom het nie en nie ‘n vlugrisiko is nie. Bruyns het ook gesê die beskuldige sal skuld ontken. Die staat het nie die borgtogaansoek teengestaan nie.

Die saak is tot Maart uitgestel vir verdere ondersoek.

Volgens ‘n inwoner van die gebied waar die leraar in bediening is, is die gemeenskap verdeeld en geskok.

” Daar is gemengde gevoelens, een groep glo dit is net beswaddering en die ander groep voel waar ‘n rokie is…,” het die inwoner gesê.