Pa wat baba mishandel tot 10 jaar gevonnis

Die 23-jarige pa van Brits wat sy ses-weke-oue baba in ‘n vrieskas gesit het as hy huil, is Dinsdag in die hooggeregshof tot 10 jaar gevangenisstraf gevonnis.

Gerhard Viljoen

Gerhard Viljoen is skuldig bevind van aanranding met die opset om ernstig te beseer. Twee van die tien jaar is vir vyf jaar opgeskort en Viljoen sal effektief agt jaar tronk toe gaan.

Gerhard Viljoen (23) en die ma van die baba, wat ten tye van die voorval net 16 jaar oud was, is in 2020 aangekla na die mishandeling deur derde partye aangemeld is. Die baba het brandwonde in die vrieskas opgedoen en ‘n mediese verslag beskryf nog 12 beserings wat die baba weens beweerde mishandeling opgedoen het.

Die saak het sedert November 2020 in die Brits-landdroshof gesloer en is later deur die staatsaanklaer teruggetrek. Afriforum se privaatvervolgingseenheid het in Julie 2021 die Nasionale Vervolginsgesag (NVG) aangevat oor drie sake van erge kindermishandeling in Brits wat teruggetrek is. Die NVG het die saak teen Viljoen en die ma, sy eksmeisie, nou 17, heropen. Die saak teen die ma is toe weer teruggetrek. Sy het glo aan ‘n kleuterskoolonderwyseres erken het dat sy haar baba in ’n vrieskas gesit het as hy te veel gehuil het.

“Die biologiese ma van die slagoffer is nog nie aangekla nie, omdat sy tans steeds minderjarig is. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag in hierdie saak opgetree,” het Chante Kelder, woordvoerder vir Afriforum, gesê.