Rowers rol gekaapte kar

Twee gewapende rowers het Donderdag ‘n gekaapte voertuig buite Brits gerol terwyl hulle van die misdaadtoneel gevlug het.

Die rowers het die gekaapte voertuig op die Roodekopjespad gerol.

Twee mans in ‘n Nissan NP200 is ongeveer 11:00 deur twee gewapende rowers op die Sonoppad oorval en uit die voertuig gedwing voor die rowers met die voertuig gevlug het.

“Tydens die vlugtog het die rowers beheer oor die voertuig verloor en die bakkie het op die Roodekopjespad omgeslaan,” het polisiewoordvoerder, kolonel Adele Myburgh, gesê. Plaaslike veiligheidstrukture, waaronder Afriforum-buurtwag en sekuriteitsmaatskappye, sowel as die polisie en ‘n vliegtuig, het die gebied gefynkam, maar die rowers het spoortloos verdwyn. Hulle is steeds op vrye voet.