Jaagtog om gesteelde kar terug te kry

Die eienaar van ‘n gesteelde kar en sekuriteitsbeamptes het Saterdag onverskrokke kardiewe agternagesit om die voertuig terug te kry.

Cor Engelbrecht en sy gesin was in ‘n supermark in Village Mall toe die kardiewe vermoedelik die karsleutel van hulle wit Ford EcoSport uit sy sak gesteel het. “Op pad na ons motor, het ek my sleutels gesoek en vir my gesin gesê ek dink ek het dit verloor. En toe sê my dogter ons kar is weg. Ons het na sekuriteitsopnames in die winkel gaan kyk en gesien hoe ‘n aantal mans om my en my gesin rondbondel,” vertel Cor.

Hy het Netstar gekontak wat hom ingelig het waar die motor beweeg. “Aequitas Sekuriteit en ‘n plaaslike inwoner, Quintis van Rensburg, het saam met Cor die gesteelde voertuig agternagesit. “Ons het die sein vir ongeveer 10 minute op Silkaatsnek verloor en toe kom dit weer aanlyn. Die diewe het vermoedelik die nommerplate hier geruil.”

Kort daarna het die Netstar-helikopter die voertuig in GaRankuwa opgespoor. Cor en die sekuriteitsbeamptes was kort op hul hakke. Toe ons by die voertuig kom, het die diewe reeds gevlug. Alles wat in die kar, onder meer duisende rande se medisyne wat ons die oggend gekoop het, was weg. Ek is net so bly dat ek ons kar terug het. Ons wil vir Aequitas se parate sekuritetisbeamptes, Quintis en Netstar bedank vir hul vinnige optrede en hulp,” het Cor gesê.