Massa buurtwagpatrollie in Brits

Meer as 20 voertuie en ‘n groot aantal Afriforum-buurtwaglede het verlede naweek aan ‘n massapatrollie in die Brits-omgewing deelgeneem.

Die buurtwag het die massapatrollie gehou om sigbaarheid in dié dorp te verhoog en het hoofsaaklik op die dorpsgebied gefokus. Vyftig patrolleerders in 28 voertuie het tussen 19:00 en 01:30 altesaam 960 kilometer tydens die patrollie afgelê. Geen ernstige voorvalle is aangemeld nie.

“Dit is vir AfriForum uiters belangrik om voort te gaan met sigbaarheidspatrollies ten einde die veiligheid van ons gemeenskappe te verseker. Dit is ook belangrik om samewerking tussen verskillende strukture te vestig om misdaad hok te slaan,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

“Suksesse soos hierdie word aangedryf deur samewerking en doeltreffende kommunikasie tussen die gemeenskap en privaat sekuriteit. Die Brits-buurtwag stel ’n goeie voorbeeld van die sukses wat behaal kan word as die gemeenskap saamstaan en proaktief optree,” sê Joseph Renaud, AfriForum se veiligheidshoof vir die sentraalstreek.

“Ons is dankbaar vir elke lid wat hulle tyd opoffer om ’n verskil te maak. Ons doen verder ’n beroep op lede van die gemeenskap om betrokke te raak en self hul veiligheid te prioritiseer. Sluit vandag nog by AfriForum aan en word deel van die oplossing,” sê Thys van Heerden, buurtwagleier van AfriForum se Brits-buurtwag.

Om by die buurtwag aan te sluit, SMS “Buurtwag” na 45344 of skakel Thys van Heerden by 067 395 6307.