Seun (8) deur kobra in speelgoedkas gepik

Joshua de Beer (8) en sy ma, Nadine in die Netcare Waterfall City-hospitaal waar hy aansterk.

‘n Agtjarige seun van De Wildt is in die hoësorgeenheid in ‘n hospitaal in Johannesburg na hy Saterdag deur ‘n wipneuskobra, wat in ‘n speelgoedkas was, gepik is.


Joshua de Beer en sy vyfjarige sussie, Olivia, het in haar kamer gespeel toe die slang hom gepik het. “Joshua and Olivia het blokkies gebou en toe hy opstaan, trap hy in die krat waarin die blokkies gebêre word. Die slang was in die krat en het Joshua in die voet gepik,” het sy pa, Johan gesê.
Johan het die slang uit die krat gekry en buite doodgemaak. Hy het ‘n foto op ‘n WhatsApp-noodgroep geplaas om die slang te identifiseer en het met Joshua na Brits Mediclinic gejaag. Hy het die hospitaal gekontak en gewaarsku hulle is met ‘n slangbygeval op pad, wat op hulle beurt met Jason Seale van die Hartbeespoort-slangpark kontak gemaak het. Jason het die gesin by die hospitaal ontmoet.
Joshua het egter nie ‘n teengif ontvang nie. “Die besluit om teengif toe te dien hang van verskillende faktore af soos die erns van die byt, waar die persoon gebyt is, en nog ander. Na samesprekings met die dokter, is daar besluit om nie teengif toe te dien nie. Joshua is ‘n baie gelukkige seun, dit was ‘n minder ernstige byt deur ‘n jong slang,” het Jason gesê.
Joshua is vanaf Brits Mediclinic na die intensiewesorgeenheid by die Waterfall City-hospitaal in Midrand oorgeplaas, en later na die hoësorgeenheid. “Sy hart en suurstofvlakke word gemonitor en hulle hou die wond dop vir moontllike weefselskade. Dit is ‘n 72-uur wagperiode. Dit gaan egter goed met hom en hy is buite gevaar,” het Johan gesê.

Die wipneuskobra wat Joshua gepik het.