Van baba tot president …

“My pad van my geboorte af tot waar ek nou president van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) welsynorganisasie is, was vir my beplan weet ek nou…”

Graeme Peplar by die ou Moedersbond-hospitaal

Bekende Hartbeespoort-inwoner en voormalige stadsraadlid, Graeme, Peplar praat nou vir die eerste keer oor sy lewensverhaal wat soos ‘n roerende storieboek lees na hy eers onlangs uitgevind het waar hy vandaan kom en hoe sy lewe ‘n volle sirkel voltooi het.

“My ouers het my op vyfjarige ouderdom vertel dat ek as ‘n paar-dae-oue baba aangeneem is en watter wonderlike geskenk ek vir hulle was. Ek het niemand vertel nie. Ons het in Florida op die Wesrand gewoon en daar was weeskinders saam op skool wat my laat besef het, ek is nie die enigste een nie. Ek het die geheim met my saamgedra tot ek 20 was en vir die eerste keer vir my verloofde vertel het ek is aangeneem. Ek het geen behoefte gehad om meer van my herkoms te weet nie,” onthou hy.

“In 2001 het ek een aand vir die eerste keer depressie ondervind. Ek het ‘n sielkundige gaan sien en sy het vir my gesê daar is ‘n legkaartstukkie weg. Ek het met my ouers gaan praat en ek onthou my ma het kamer toe gestap en met my geboorte- en aannemingsertifikaat teruggekom. Al inligting wat ek kon kry was dat my biologiese ma van Ermelo was.”

Graeme het ‘n advertensie in die plaaslike koerant in Ermelo geplaas waarin hy gesê hy is op soek na sy biologiese herkoms. “Ek het drie oproepe ontvang. Een was van my biologiese ma se niggie. Ek en my biologiese ma was kort daarna per brief in kontak en ons sou ontmoet, maar sy het kort voor die ontmoeting daarteen besluit. Ek het wel drie lede van die familie ontmoet wat agtergrond gegee het. My biologiese ma het op 18 swanger geraak en is deur haar pa Pretoria toe gestuur om die baba te kry en te laat aanneem. Ek het dit daar gelaat.”

Hy het in 1998 Hartbeespoort toe verhuis en by die gemeenskap betrokke geraak. Na ‘n tydperk in die politiek as ‘n DA-raadslid by die Madibeng-munisipaliteit, het hy in 2010 by die SAVF se Hartbeeshof-atreeoord betrokke geraak. Ek was nog maar altyd ‘n gemeenskapsmens. Die SAVF het my die volgende jaar genomineer as president van die organisasie, maar ek het nee gesê. In 2017 het die organisasie weer gevra en Graeme het ingestem. Hy is tot die eerste manspresident van die SAVF verkies.

“Net meer as ‘n jaar gelede, ry ek eendag vanaf ‘n SAVF-vergadering in Pretoria verby die destydse ‘Moedersbond’ en skielike kry ek ‘n idee…dalk was dit ‘n engel wat dit daar geplaas het… Ek het skielik gewonder oor waar ek gebore is. Ek het ‘n oproep gemaak, moes net twee vrae beantwoord en toe kry ek die antwoord: Ek is in die SAVF se Armstrong-Burning tehuis vir ongehude moeders in Pretoria gebore! Dit was asof ‘n lig aangegaan het. Na 10 jaar by die SAVF vind ek uit ek is ‘n kind van dié organisasie. Ek is as ‘n SAVF-baba gebore en het ‘n sirkel voltooi tot waar ek nou president is van hierdie groot welsynorganisasie. Ek is lank terug reeds gekies vir hierdie taak,” sê hy. Al die legkaartstukkies was skielik in plek. “My ouers het my nooit vertel van die SAVF-verbintenis nie, al het hulle geweet van my betrokkenheid.”

“Ek was baie gelukkig as ‘n kind en vandag het ek eienaarskap van wie ek is en ek glo die SAVF is met ‘n doel op my pad gebring. Die organisasies het 180 takke in vyf provinsies en bestuur ‘n groot aantal kinderhuise, aftreeoorde en maatskaplike werkers. Toe ek verkies is, het ek aan almal gesê ek is verkies om emosie uit die taak te haal. Ek gaan nie neusies afvee nie, ek sal sorg dat daar snesies vir die neusies is.”

En net ter inligting… Graeme is nie die enigste man in die SAVF nie! Hy lag. “Ons provinsiale leiers is mans, die vise-president is ‘n man… en ek het nog nooit koekies en tertjies gebak nie. Die SAVF is ‘n welsynorganisasie wat mense se lewens ten goede verander.”

En Graeme is ‘n sprekende voorbeeld daarvan!