Brits-inwoners takel afgeskeepte dorp

Oud en jonk het verlede naweek saam gewerk om afgeskeepte dele van Brits skoon te maak en te verfraai.

Brits-inwoners het verlede naweek die afgeskeepte vlei in Knoxlaan getakel.

Byna 30 inwoners het Saterdag bymekaargekom om die vlei-gedeelte op die hoek van Knoxlaan en Hardekoolstraat te takel. “Ons oudste helper was 77 en ons jongste vier!” sê JP Joubert wat die skoonmakprojek voorgestel het.

“Ek bly my lewe lank in Brits en onthou hoe mooi dit was en toe daar boonop onlangs by ons ingebreek is, het ek besef ons sal self iets moet doen. Daar is ook ‘n naskoolsentrum in die omgewing en die kinders loop in dié gebied. Dit is in die belang van almal se veiligheid om die area skoon te hou.”

JP het die woord die gemeenskap ingestuur en hy was verbaas hoeveel reaksie die idee gekry het.

“Behalwe dat dit so onooglik is, is dit ook waar misdadigers skuil en die inwoners besef dit. Ons het donasies van voertuie, werkers ens van verskeie besighede en inwoners gekry, en ons wil baie dankie sê aan elkeen wat bygedra het.”

Hy beplan nog ‘n skoonmaakaksie dié naweek en wil poog om dit ‘n maandelikse instelling te maak.