Kindermishandelingsaak wéér uitgestel

Die saak van kindermolestering teen twee mans, en die ma van ’n jong dogtertjie in Hartbeespoort is Woensdag weer in die Brits-landdroshof uitgestel.

Advokaat Gerrie Nel van AfriForum

Die beweerde misdade teen die vierjarige kind het reeds in 2018 plaasgevind.
AfriForum se privaatvervolgingseenheid het die verwikkelinge in die Brits Landdroshof as betreurenswaardig bestempel. Dit is een van die kindermishandelingsake in Brits en Hartbeespoort waarby die eenheid tans betrokke is.
Die hof het Woensdag aanvaar dat die rede vir hierdie lang verloop is om die beskuldigdes die geleentheid te gee om befondsing vir hul regsverteenwoordiging te reël. Volgens Natasha Venter, adviseur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, is die eenheid geskok oor die mededeling dat die regsverteenwoordiger nie btaal is nie, en het dit as ’n blote vertragingstaktiek bestempel.
“Dit is ’n skande dat hierdie kind aan soveel sekondêre trauma blootgestel word, bloot omdat die beskuldigdes se regte bó die van die slagoffer gestel word. Die slagoffer was in 2018 vier jaar oud en byna vier jaar het reeds verloop sedert die beweerde insidente. Hierdie saak is al keer op keer uitgestel om te verseker dat die beskuldigdes se regte beskerm word, maar geen agting is klaarblyklik geskenk aan die effek wat dit op die jong slagoffer het wat nou gruwelike herinneringe moet opdiep oor wat na bewering vier jaar terug met haar gebeur het nie. Dit voorkom nie net dat die slagoffer enige afsluiting kry nie – dit is ook ’n klad op die strewe na geregtigheid,” sê Venter.
Volgens Venter wil die privaatvervolgingseenheid die NVG komplimenteer met die aanstelling van staatsadvokaat Salomé Scheepers om die vervolging te behartig, en dit is ’n feit dat onbillike vertragings soos hierdie ook onnodige ekstra werk vir hardwerkende aanklaers skep. Die hof het dit ook gister op rekord geplaas dat daar steeds geen permanente streeklanddros in Brits is wat hierdie saak gaan aanhoor nie, aangesien die voormalige streeklanddros in Brits na Ga-Rankuwa oorgeplaas is. Dit het bygedra tot die lang verloop voordat die verhoor kan begin, en dui daarop dat Ronald Lamola, die Minister van Justisie, se stellings in die media dat sake van geweld teen vroue en kinders geprioritiseer sal word, bloot lippetaal is.
Die saak is vir verhoor op die rol geplaas van 29 tot 30 Augustus, asook 7 tot 9 September 2022. Die beskuldigdes en hul regsverteenwoordiger moet op 1 Junie 2022 aan die hof bevestig dat die befondsing gereël is.
Afriforum het verlede jaar by vier kindermolestering- en mishandelingsake in Brits en Hartbeespoort betrokke geraak na die sake teen die beskuldigdes teruggetrek is. “Dié vier gevalle bevat van die gruwelikste seksuele misdade teen kinders wat ek al in my loopbaan teëgekom het. Ten spyte van die erge graad van mishandeling, blyk dit egter dat wetstoepassers in Brits óf onbekwaam óf onwillig is om die kinders te beskerm. Hierdie kinders word nie net deur hul ouers en oppassers versaak nie, maar ook deur die strafregstelsel,” het advokaat Gerrie Nel van AfriForum se privaatvervolgingseenheid gesê.