Mooie skoolhoof mik vir Mev SA-titel

Die mooie Riandi Robertse, ‘n Brits-inwoner en skoolhoof, is pas gekies as ‘n semi-finalis vir die Mev Suid-Afrika-titel.

Riandi Robertse

Riandi, ‘n ma van ‘n agtjarige dogter, is ‘n skoolhoof by ‘n laerskool in Centurion en het in 2016 die National Teaching Award in die kategorie “Excellence in Primary School Leadership” gewen.

“Ek het ingeskryf vir die Mev SA-kompetisie, omdat ek glo in die bemagtiging van myself as vrou en die ontwikkeling van die vroue in ons land. Mev SA het verander van ‘n blote skoonheidskompetisie, na ‘n bemagtigingsprogram vir vroue, waarmee die deursnee vrou kan vereenselwig. Ek glo vas dat ‘n mens alles kan bereik waaroor jy droom, as jy net uit jou gemaksone beweeg. Nelson Mandela het gesê “It always seems impossible, until it is done.” Dit is my motto in die lewe. Mev SA bied my hierdie wonderlike geleentheid om die beste weergawe van myself te word en ek wil dit met albei hande aangryp,” sê sy.

Riandi is in Brits gebore en getoë en is 21 jaar getroud en spog met ‘n pragtige dogter. Sy is op die jong ouderdom van 27 as skoolhoof aangestel.

“Ek is ‘n dinamiese onderwyser en my passie lê by die opvoeding van kinders uit landelike gebiede. Ek is tans besig om my veldtog “Yes M’lady” te loods, waar ek fokus op die bewusmaking van self-waarde in skoolmeisies. Ek wil meisies bemagtig om meer vaardighede aan te leer om self-voorsienend te wees, daarom gaan ek ook groentesaad uitdeel onder die meisies. Ek beoog om die projek uit te brei en sportontwikkeling ook in gemeenskappe te bevorder. Ek wil graag die platform wat nou tot my beskikking is, met my deelname aan die kompetisie, gebruik om ‘n daadwerklike verskil in die meisies in ons omgewing se lewens te maak. Ek glo ons kan die toekoms van ons land so bou, een kind op ‘n slag.”
Die finaliste sal die einde Junie aangekondig word en die wenner in November.
Ons hou duime vas, Riandi.