Ma, stiefpa in hof oor beweerde verkragting van 5-jarige

‘n Ma en stiefpa van Hartbeespoort het Donderdag in die Brits-landdroshof verskyn op aanklagte van verkragting, seksuele molestering en versuim om ‘n seksuele oortreding teen ‘n minderjarige aan te meld.

Dit spruit uit ‘n voorval in 2018 toe die stiefpa van verkragting en seksuele molestering van sy vyfjarige stiefdogtertjie aangekla is. Afriforum se privaatvervolgingseenheid het verlede jaar by die saak betrokke geraak na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) die klagtes teruggetrek het. Die bekende advokaat Gerrie Nel het gesê die saak is ten spyte van oorweldigende bewyse teruggetrek en die privaatvervolgingseenheid het geëis dat die direkteur van openbare vervolging die vervolging van die beskuldigdes herinstel. Dit is toe gedoen.

Nel het ten tye van die aankondiging van hul betrokkenheid gesê die NVG het, sonder om redes te verskaf, hierdie saak teruggetrek teen die beskuldigde wat sy vyfjarige stiefdogter na bewering verkrag en seksueel aangerand het. “Die dogtertjie het aan die maatskaplike werker vertel hoe haar stiefpa saans haar kamer binnegekom en haar gemolesteer het. Sy het ook gesê dat dit seer was en dat daar baie bloed was. Haar stiefpa het die dogtertjie ook na bewering met ’n belt aangerand en haar mond tydens die aanvalle toegedruk as sy huil. Die kind se ma was volgens bewyse bewus van die verkragting en het aand na aand gehoor hoe haar dogter huil. Die ma het egter in ’n brief aan hul pastoor se vrou geskryf dat die Here verhoed het dat sy haar dogter se kamer binnegaan ingeval die verdagte gewelddadig raak. Sy het ook in ’n e-pos erken dat sy van die verkragting bewus was,” het Nel gesê.

Hoewel die stiefpa anvanklik alleen aangekla is, is die ma onlangs ook aangekla vir die versuim om ‘n seksuele oortreding teen ‘n minderjarige aan te meld.

Die ma en stiefpa het Donderdag ‘n vertoë aan die NVG gerig dat klagtes teen hulle teruggetrek word. Volgens NVG-woordvoerder, Lumka Mahajana, is die saak tot 10 Mei uitgestel vir die direkteur van openbare vervolging se besluit oor die vertoë.