Hartbeespoort en Brits nou deel van FAK-familie

Inwoners van Hartbeespoort en Brits het besluit hulle wil hul deel doen vir bewaring van erfenis in hul gebied en hul eie FAK-kultuurnetwerk gestig.

Brits- en Hartbeespoort-inwoners tydens die FAK-tak se stigtingsvergadering

Volgens Barry Müller, kultuurkoördineerder van die FAK, het hierdie areas baie erfenisskatte waarvan baie mense in die area nie eers bewus is nie. “Daar is ondermeer Deborah Retief (Piet Retief se dogter) se graf wat skuins oorkant Gustav Preller s’n staan. Daar is ’n monument vir Eugène Marais waar hy sy eie lewe geneem het, die Transvaalse Burgeroorlogmonument en Anglo-Boereoorlog-burgergrafte,” sê Müller.

Die nuwe netwerk bestaan uit mense vanuit die Hartbeespoortdam en Brits gemeenskappe asook verteenwoordigers van verskeie organisasies en instellings.

“Ons glo en vertrou nog meer instansies en mense van die publiek gaan later hierdie saak ondersteun, saamstaan en eienaarskap neem vir die behoud en toekoms van die erfenis by hulle,” sê Müller. “Tydens hierdie stigting was dit duidelik gewees dat Hartbeespoortdam en Brits se mense gereed is om ’n verskil te maak en dat hulle gerat is om saam tot ’n gemeenskaplike doel te werk.

Oor die afgelope paar jaar is 28 FAK-kultuurnetwerke reg deur die land gestig wat gemeenskappe help om eienaarskap te neem van die erfenis in hul eie areas. Dié netwerke verseker dat die taal, kultuur en Afrikanergeskiedenis in daardie gemeenskappe behoue sal bly en bevorder word, veral onder die jeug.

Verskeie plaaslike moontlikhede is op dié Hartbeespoort Brits-vergadering bespreek, van die skoonmaak en beskerming van gedenkwaardighede, tot die uitbreiding van toerisme in die area met die Afrikanerbakens. Die inskakeling by skole en bestaande plaaslike projekte is ook een van die kernfokuspunte om die taal en kultuur verder te bevorder.
Vir meer inligting, kontak Barry Müller by barry@kultuurtuiste.org.za.