Plaaslike modelle na Mosambiek-eilande

‘n Groep plaaslike modelle het verlede maand ‘n week lank op die luukse MSC Orchestra boot saam met ander modelle van Suid-Afrika na die Pomene-eilande in Mosambiek gevaar waartydens hulle deur sowat 20 internasionale modelagente beoordeel is.

Vir die 12 plaaslike modelle van Figures Models in Brits, Karin Harvey (18), Brighita Haughton (15), Austin Coetzer (7), Kaylia Pentz (16), Sharoné Venter (16), Zanjé van Rensburg (17), Juané Rossouw (16), Keletso Mudau (17), Odelia Laubscher (18), Michaela Laubscher (18), Mieke Olivier (8) en Ankia Vorster (22) was dit ‘n belewenis. Almal het in verskeie kategorieë deelgeneem. Die reis het gedien as ‘n geleentheid vir die modelle om deur internasionale modelagentskappe raakgesien te word vir televisie-, rolprent- en advertensiemoontlikhede. Karin Harvey het tweede plek behaal in haar “TV Commercial” afdeling en Sharoné Venter het tweede plek behaal in die “Cold Read” afdeling.