Brits boer ontdek swartmamba in sy kar

“Al het hy my nie gepik nie, as ek hom net gesien het terwyl ek ry, het ek in elk geval die kar omgegooi!”

Die 2 m swartmamba is deur ‘n slanghanteerder van Hartbeespoort Slangpark verwyder.


So sê Jaco Steenkamp (54), ‘n boer van Atlanta naby Brits wat Donderdag tydens ‘n besoek aan ‘n besigheid in Brits ‘n 2 m swartmamba in sy kar ontdek het.
Jaco was Donderdag by ‘n onderneming in Brits wat bakkierame maak toe hy en die eienaar van aangesig tot aangesig met die mamba gekom het.
“Ek het ‘n splinternuwe Nissan Patrol en die eienaar van DH Bakkierame, Derick Zietsman, wou die kar van binne sien. Hy het ingeklim en gekyk en toe is ons kantoor toe. Toe ek wil ry, maak Derick die deur vir my oop en roep daar is ‘n slang in my kar. Die slang was op die stuurwiel en toe val hy op die sitplek. Ek het my yskoud geskrik en ons het die deur toegeslaan,” vertel Jaco.
Derick het aanvanklik gedink dit is ‘n rubberslang. “Ek was vroeër in die kar en het nie ‘n slang gesien nie. Toe ek egter die deur oopmaak, sien ek die slang val van die stuurwiel af op die sitplek. Toe hy beweeg, toe besef ek hierdie is nie ‘n rubberslang nie. Hy het onder die sitplek ingeseil,” sê Derick.
Derick het die Hartbeespoort Slangpark gekontak wat iemand uitgestuur het om die slang te kom verwyder.
“Ek weet nie hoe lank ek met die slang saamgery het nie. Ek was Woensdag heeldag op die pad van Atlanta na Pretoria toe en terug en het eers 21:00 by die huis gekom, en toe is ek vroeg Donderdag weer uit. Die mamba het dalk al dae lank saamgery. Hy moes by Atlanta opgeklim het. Kyk, as ek daai slang gesien het terwyl ek ry, was my kar onderstebo. Ek sou dit nie gemaak het nie,” sê Jaco.
“En toe kom die man van die slangpark so ewe kalm daar aan, maak die deur oop en trek die slang aan sy stert uit, man…! Al is dit so warm vandag, is ek yskoud.”

Jaco Steenkamp (regs) kyk van ‘n afstand hoe die slang uit sy splinternuwe kar verwyder word.