“Klein slangetjie” toe ‘n 2 m kobra!

Toe bekende Hartbeespoort-inwoner, Werner Nagel, verlede week gevra is om ‘n “klein slangetjie” by die Brits-silos te kom verwyder, het hy soos gewoonlik sy slangvang-gereedskap en -emmer ingepak en gedink hy gaan ‘n onskadelike huisslang, of iets soortgelyk, vang. Hy het beslis nie gereken op ‘n 2m wipneuskobra nie.

Die 2m wipneuskobra

“Iemand het op Facebook gevra vir ‘n slangvanger om die slang by die silos te verwyder en mense het my aanbeveel. Ek is meegedeel dit is ‘n klein slangetjie. Toe ek daar kom, is die slang toe nou nie so klein nie, maar ‘n groot kobra. Hy was te groot om in die emmer te pas en ons moes ‘n ander plan maak,” vertel Werner. Al uitweg was om die slang aan die stert en kop beet te kry en hom pad-af na die rivier te sleep-dra waar hy vrygelaat is.

“Ek is nie ‘n opgeleide slangvanger nie, maar ek is bereid om te help as slange verwyder moet word. My pa het in die tagtigerjare slange gevang en na die Hartbeespoort-slangpark toe gevat. Dit is maar waar die belangstelling vandaan kom. Nee, ek is nie bang vir hulle nie… jy moet net wegbly van die skerp kant af!”