Vermeende kapers brand los op motoris op N4 by Brits

‘n Brits-inwoner was Maandag gelukkig om ongedeerd van vermeende rowers te ontvlug toe hulle op hom op die N4 by Brits geskiet het.


Danie Steyn (41) was 09:50 vanaf Mooinooi op die N4 na Brits op pad toe twee verdagtes in ‘n swart BMW met Gauteng-nommerplate hom van die pad probeer forseer het. “Hulle het my probeer afdruk, maar ek kon daarin slaag om hulle verby te steek. Toe begin hulle skiet,” het Danie gesĂȘ.

Die vermeende kapers het vier of vyf skote op sy motor afgevuur terwyl hulle hom sowat 1km ver gejaag het. “Naby die Hartbeespoort R512/Brits-afrit het hulle my verbygesteek en ek het die afrit gevat om na die Brits-polisiestasie te jaag. Hulle het omgedraai en my weer agterna gesit. Gelukkig was daar egter heelwat karre op die pad en hulle het teruggeval.”

Twee skote het Danie se voertuig, ‘n Hyundai-koerierbakkie getref. “Een skoot is deur die passasiersdeur en die ander het die bakkie se verkoeler getref. “Ek is baie gelukkig dat ‘n skoot my nie getref het nie.”

Die Brits polisie ondersoek ‘n saak van poging tot moord.

Gemeenskapslede, sekuriteitsmaatskappye en buurtwagte het hul kommer uitgespreek oor die wettelose kriminele insidente op die N4 naby Brits die afgelope tyd. Twee motoriste is sowat ‘n maand gelede op die stuk pad doodgeskiet en verskeie mense is aangeval en beroof na skerp voorwerpe op die snelweg motoriste gedwing het om te stop. Hulle is deur gewapende rowers aangehou en beroof.