Donderdag: Opinie

Dié beslaglegging volg op die Valke se ondersoek na beweerde korrupsie en wanadministrasie in die munisipaliteit waarby daar, volgens inligting, meer as 25 tenders betrokke is.

Die Valke se woordvoerder, brigadier Hangwani Mulaudzi, het gesê die Tesourie het die saak verwys en die Valke het daarom beslag gelê op die munisipaliteit se dokumente.

In haar reaksie op die Valke se beslaglegging het burgermeester Jostina Mothibe by ‘n nuuskonferensie Donderdagmiddag gesê the munisipaliteit sal sy samewerking aan die Valke gee en die reg sy loop laat neem, maar in dieselfde asem die klopjag as politiekery afgemaak, veral met die oog op die komende munisipale verkie-sing en die kontrakteurstryd wat gevolg het op die oorplasing van Madibeng se voormalige munisipale bestuurder, Monde Juta, na die Ditsobotla munisipaliteit in Augustus verlede jaar.

Vir inwoners van die Madibeng munisipaliteit is die klopjag net goeie nuus, want ons voel reeds jare die knyp van die gebrekkige dienslewering, leef daagliks saam met die gevolge van verkeersligte wat nie herstel word nie, slaggate in bykans elke munisipale pad, en water- en elektrisiteitsvoorsiening wat weens wanbetaling  aan verskaffers onderbreek word,  selfs al ontvang Madibeng die nodige fondse van sy inwoners. Daar word wyd gehoop die stap sal dalk die begin van die einde vir die onbevoegdes in die munisipaliteit wees en ‘n nuwe era in verantwoordbare en verantwoordelike munisipale bestuur inlei.

Die munisipaliteit se gebrekkige dienslewering het egter ook ‘n nog donkerder kant, met protesterende inwoners wat al selfs hulle lewens verloor het as gevolg daarvan, en nou verneem ons een van die land se grootste meubelvervaardigers beplan om sy fabriek in Brits in Junie te sluit weens hierdie einste gebrek aan
dienslewering.

So ‘n stap sal sowat 1 500 mense werkloos laat en beslis ‘n sneeubaleffek op die omgewing se ekonomie in ‘n reeds moeilike ekonomiese klimaat hê. Van die vervaardiger se klagtes sluit in vergeefse pleidooie oor lekkende riool in die straat voor hul perseel, asook die voortdurende krag- en wateronderbrekings wat produksie, en daarmee saam winsgrense nadelig beïnvloed.

Dit sal ‘n tragedie wees as hierdie stap deur ander groot werkverskaffers in die omgewing gevolg word, en teen die huidige pas is dit nie ‘n vae moontlikheid nie.

Ons hou die verwikkelinge met die Valke met opgehoue asems dop en hoop dis die begin van Hartbeespoort en Brits se redding, voor die laaste klok regtig begin lui. Die belangrikheid van die komende munisipale verkiesings op 3 Augustus kan derhalwe nie oorbeklemtoon word nie. Maak seker jy is geregistreer die naweek en help verandering bring deur ‘n sterk opposisie daar te stel.

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Barking up the wrong tree