Totsiens Storm

Adjudant-offisier Kevin McIntyre en Storm

Storm, Hartbeespoort se eerste polisiehond wat bekendheid verwerf het toe hy in 2014 ‘n kabeldief in Ifafi “gearresteer” het, is verlede Donderdag op die ouderdom van sewe jaar dood na hy in Januarie 2015 weens ‘n beroerte uit aktiewe diens gestel is. Hierdie roerende huldeblyk is geskryf deur sy hanteerder vir bykans drie jaar, adjudant-offisier Kevin McIntyre. Storm het sedert sy uittrede by Kevin en sy gesin gewoon.

“Tjomma, buddy, pel, vriend, kollega.

Ek het nooit gedink die dag sou ooit aanbreek dat ek aan jou ‘n brief sou skryf nie. Maar hier sit ek nou met trane wat van my wange af loop en ek verlang my dood na jou.                

Ek onthou die dag toe daar vir my gesê was dat ek jou kon gaan haal. Ek was so opgewonde, maar ook tog so senuweeagtig, want ek het nie geweet hoe jy gelyk het of hoe jou temperament was nie. Ek moet sê ons het van die eerste oomblik af ‘geclick’ en ons band het net sterker en sterker geword.

Jy was die heel eerste hond vir Hartbeespoortdam K9 en het nie net die polisie se druk op jou skouertjies gedra nie, maar ook die trots van die hele Hartbeespoortgemeenskap, en jy het dit gedoen sonder om een dag te kla of om ‘n poot te sleep van die groot en swaar verantwoordelikhede wat op jou skouertjies geplaas was.

Jy het ‘n baie groot naam vir jouself gemaak, nie net in Hartbeespoortdam nie, maar in die hele Noordwes.

Ons het in 2014 ‘gat geskop’ toe ons as individue genomineer was as die wat die meeste gesteelde en gehijackde karre teruggekry het van alle lede in Noordwes.

Ek sal nooit die aand vergeet toe jy die kabeldief in die bosse uitgesnuffel en aangekeer het nie.

Die woord het vinnig versprei en dit was vir ‘n lang ruk stil gewees in Harties. Elke oggend as ek by die werk ingery het, kon ek jou opgewonde blaf hoor en as ek na jou kennel toe gestap het, het jou stert die hele tyd gewaai, so bly was jy om my te sien.                                                     

As ons gewerk het was jy altyd my backup gewees, maak nie saak wat die situasie was nie. As ons in die kar gery het en die sirene aangaan, het jy altyd begin tjank van opgewondenheid.

Ek kon met die wêreld se selfvertroue by enige klagte afstaan en weet dat jy daar sal wees as ek jou nodig gehad het. Jy sou jou lewe vir my opgegee het as jy moes.                              

Die dag dat jy die beroerte gehad het en half verlam was in jou agterlyf, was een van die dae wat ek die grootste geskrik het.

Dit het wel beteken dat jy nie meer geskik was as ‘n polisiehond nie, maar dit het ook beteken dat jy huis toe kon kom om jou ou dae rustig te geniet. Jy het so goed aangepas by die huis en die kinders en het hulle almal so mooi opgepas.

Jy was nou wel ‘n goeie waghond, maar ons tuin het erg daaronder gely. (LOL) En toe breek die dag aan.

Jou tydjie saam met ons was verby gewees. Jesus pluk altyd sy mooiste blomme eerste. Dit het ons almal by die huis en almal wat jou geken het, se harte so gebreek. Dit het so onwaar geklink, maar dit was ‘n realiteit.

Ek wil namens ons en almal wat jou geken het, sê totsiens, my vriend.

Dit was’ n eer en voorreg om saam met jou te kon werk. Daar sal nooit weer ‘n hond soos jy wees nie.”

  AUTHOR
M

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Missing businessman’s burned-out car found on Hennops road