Vier dood in gru-ongeluk

Drie vroue en ‘n man is op slag dood toe hul Toyota Corolla kop-aan-kop met ‘n Range Rover op Saartjiesnek gebots het. Necsa-brandweer moes die vier oorledenes se verminkte liggame met lewenskake uit die wrak verwyder.

Een van die twee insittendes van die Range Rover is beseer en na ‘n hospitaal vervoer.

“Die oorsaak van die ongeluk word nog ondersoek, maar dit blyk asof die Toyota Corolla voor die Range Rover ingeswaai het,” het Romano van der Spuy, woordvoerder vir die Hartbeespoort GPF gesê.

Die polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag.

In ander ongelukke is ‘n 71-jarige man Woensdag kritiek beseer toe hy in Daniestraat, Brits deur ‘n trok raakgery is. Die bejaarde man is eers na Mediclinic Brits geneem vanwaar hy later per noodhelikopter na die Milpark Hospitaal in Johannesburg gevlieg is vir spesialis-behandeling. Drie mense is Saterdagoggend vroeg beseer toe twee voertuie op die N4 by die Bapong-weegbrug gebots het. Twee mans, van onderskeidelik 36 en 34 jaar oud,  is na die Brits Distrikshospitaal geneem.

‘n Vrou (23) is na Mediclinic Brits geneem vir behandeling.

Twee mense is beseer in ‘n botsing op die Thabazimbipad in Dennekruin Saterdagoggend. Een is ernstig beseer en albei is na Mediclinic Brits geneem.

(Inligting en foto’s: Hartbeespoort Noodreeding en Hartbeespoort GPF)

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Armand performs