En die pype bars voort…

Sodra een pyp herstel is, bars die volgende.

‘n Groot aantal inwoners was die afgelope twee langnaweke sonder water. En die Madibeng munisipaliteit het nie eers ‘n watertrok gestuur om die inwoners van water te voorsien nie.

“Miljoene liter water is al gemors en steeds gaan die vermorsing voor. Die Madibeng munisipaliteit besef maar alte goed dat die pype vervang moet word. Die infrastruktuur is meer as 40 jaar oud en dit is geen wonder dat dit nou sonder onderhoud ingee nie. Die dorp gaan sedert 14 April gebuk onder die vermorsing,” sê wyksraadslid, Erna Rossouw.

Sy sê die asbespype moet vervang word en dit is al die afgelope sewe jaar ‘n ‘prioriteit’ op die IDP (Integrated Development Plan), maar niks word gedoen nie.

“Dit is ‘n gelas en geplak wat sake vererger.”

Rossouw het nou die skaduminister van water en sanitasie genader vir hulp en die krisis sal aan die parlement voorgelê word.

Intussen spoel riool by die seiljagklub in Scottstraat onverpoosd die afgelope 25 dae die Hartbeespoortdam in.

Die besoedeling word byna daagliks aangemeld met geen reaksie nie. Dit sal ook nou onder die departement van water en sanitasie se aandag gebring word.

Kormorant se navrae aan die Madibeng munisipaliteit drie weke gelede, is steeds nie beantwoord nie.

  AUTHOR
Daleen van Manen
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Where there is a will…