Brits-inwoners stik in die stank

Die rioolwerke in Brits staan die afgelope vyf maande so te sê stil en die Madibeng munisipaliteit sukkel volgens inligting om geld bymekaar te skraap om toerusting te herstel.
“Die rioolwerke funksioneer op minder as 20% van die kapasiteit en die afvalwater wat in die Krokodilrivier inspoel is besmet met ecoli,” het raadslid Eddie Barlow op navraag aan Kormorant gesê. Slegs 50 eenhede ecoli per 50cc water is toelaatbaar. Volgens betroubare bronne is die telling tans sowat 10 000 eenhede per 50cc.
“Die Krokodilrivier is ‘n gemors,” sê Barlow.
Volgens Barlow is die elektroniese en elektriese toerusting vir die rioolwerke reeds aangekoop of herstel, maar die meganiese komponente moet nou eers herstel word.
“Ek het verlede week weer met die munisipale bestuurder gepraat en wag om terugvoer te kry. Die kontrakteurs is al ‘n maand op die perseel, maar dit lyk nie asof daar al vordering is nie. Sowat R1.2 miljoen word benodig om die werke te herstel en dit wil voorkom asof die munisipaliteit nie geld daarvoor het nie.”
Die Madibeng munisipaliteit het nog nie op die Kormorant se navraag gereageer nie.

  AUTHOR
Daleen van Manen
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Brits man voor dogter doodgesteek.