Boer krities na plaasaanval buite Brits

Berdine (51) en Dries (57) Minnie

Dries Minnie is in ‘n kritieke toestand en is deur die Netcare 911 noodhelipkopter na ‘n hospitaal in Johannesburg gevlieg.
Dries en sy vrou Berdine (51) was ongeveer 19:00 in die huis toe een van die honde by die sitkamervenster begin blaf het.
“My ma het met die flitslig deur die venster gekyk maar niks gesien nie. Die ander honde begin toe ook blaf en my pa maak die agterdeur oop om hulle uit te laat. Die vier mans was reeds buite die deur en het hom die huis ingestamp,” het die egpaar se dogter, Ilze aan Kormorant gesê.
“My pa het vir my ma geskree om die geweer te kry en sy het kamer toe gehardloop, maar een van die rowers was reeds op haar. My pa het met die ander rowers geworstel en een het ‘n 9 mm-pistool teen hom gedruk en geskiet. Hulle het my ma rondgestamp en vir haar gesê sy moet stil sit of hulle skiet haar ook dood. Hulle het haar handsak, die bakkies se sleutels en twee gewere gevat voor hulle gevlug het. Gelukkig het my ma se selfoon onder ‘n bank in geval en sy kon hulp ontbied.”
Volgens Chris Degenaar van die Crocodile gemeenskapsforum, wat op die toneel was kort na die aanval, het die rowers vermoedelik gevlug in ‘n voertuig wat vir hulle gewag het.”
Die Thabazimbi polisie se K9-eenheid, die gemeenskapsforum se spoorsnyhond en ‘n helikopter was kort na die aanval op die toneel, maar die rowers was reeds weg.
Minnie se milt moes Dinsdagaand verwyder word en die koeël het een van sy longe beskadig.
“Hy is in die intensiewe-eenheid en word onder sedasie gehou,” het Ilze gesê.
Volgens Degenaar is die spore van die drie verdagtes reeds die vorige dag deur plaaswerkers aangemeld.
Dinsdagoggend het die Assen polisie glo drie van die verdagtes in bosse tussen Assen en Jericho opgespoor en gemeenskapslede se hulp is ingeroep om hulle aan te keer. Teen druktyd was daar nog nie meer besonderhede oor die soektog nie.

  AUTHOR
Daleen van Manen
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Boer sterf na plaasaanval