Jong motorbootrenjaers oppad na Finland

Ashton Tope in aksie op die water.

Leigh-Anne Tope, ‘n 16-jarige leerling van Hoërskool Hartbeespoort is tans die Suid-Afrikaanse kampioen in haar kategorie, terwyl 11-jarige kleinboet Ashton vyfde in die land is. Hy is ‘n leerling van Laerskool Generaal Hendrik Schoeman.

Leigh-Anne Tope (16) is die beste motorbootrenjaer in Suid-Afrika in haar kategorie.

Leigh-Anne neem al sedert 2012 aan hierdie opwindende sport deel. Sy het op 11-jarige ouderdom in die junior klas begin deelneem en in 2014 op beweeg na die GT 15 klas. Leigh-Anne is vir die laaste twee opeenvolgende seisoene as kampioen aangewys en is dus gekies om in Finland teen ander landskampioene deel te neem.

Ashton het van die sport gehou en ook, in 2013, begin deelneem. Op sewe-jarige ouderdom het hy, soos Leigh-Anne, op beweeg na die GT 15 klas vanaf die junior klas en vaar uitstekend.

Klein Ashton Tope (11) is vyfde in die land in die GT 15 motorboot sport en sal in Junie in Finland by die wêreldkampioenskappe deelneem.

Naomi Tope, die twee se ma, sê dat hulle verskriklik passievol is oor hierdie sport, maar dat dit ‘n verskriklike duur sport is. “Dit kos so baie om jaarlikse lidmaatskap, inskrywingsfooie, klere, toerusting ens te dek, om nie eers te praat van die motorbote waarmee hul jaag nie.”

Die familie vra dringend vir borge van die publiek en besighede. “Daar is natuurlik ook baie voordele vir maatskappye wat borg,” vertel Naomi. “Hul name verskyn op advertensieplakkate, sekere van die toernooie het radiodekking waarop borge genoem word, toeskouers word bewus gemaak van die borg en natuurlik die assosiasie met ‘n baie dinamiese sport.” Verder, sê sy, sal ‘n borg moontlik ook hul handelsmerk op die bote kan vertoon.

“Die borge sal so baie doen om my kinders se drome te vorder,” sê sy. Enige person wat belangstel om ‘n borg te wees kan vir Naomi kontak by 0739296559.

  AUTHOR
Cerise Mtshatsheni

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Boer sterf na plaasaanval