30ste Om die Dam verloop seepglad

Die 30ste Om die Dam ultramarathon in Hartbeespoort verlede Saterdag het weer gesorg vir duisende besoekers aan Hartbeespoort en het vir min ontwrigting gesorg.

Brits polisie, Hartbeespoort buurtwagte, die Madibeng verkeersdepartement en die polisie se berede eenheid het gesorg vir die vloei van verkeer en geen ander misdaadinsidente, behalwe ‘n atleet wie se motor wat gesteel is, is aangemeld nie.

Die Om die Dam ultramarathon is deur Juan van Deventer, ‘n voormalige Olimpiese 1 500m-atleet gewen. Dit was die eerste keer dat hy ‘n ultramarathon aangedurf het.

Van Deventer was byna vier minute voor die ander deelnemers oor die wenstreep met ‘n tyd van 2:52:55. Lutendo Mapoto was tweede in 2:56:37 en Morena Dijana derde in 2:58:55.

Caroline Josten was die eerste vrou oor die 50km wenstreep met ‘n tyd van 3:33:38, Cobie Smith tweede in 3:34:33 en Yolanda Maclean in 3:36:41.

Die 21km is deur David Manja in 1:09:38 en Roné Reynecke in 1:23:35 gewen.
Geluk aan die organiseerders vir ‘n uitstekende wedren.