Tienie Pritchard se kuns oor 50 jaar uitgestal

Op 79 herdenk Tienie vanjaar ‘n halfeeu van kuns sedert hy as 29-jarige ‘n vaste betrekking bedank het en sy beeldhoupassie hier in Hartbeespoort gevolg het.
Ter viering hiervan bied Tienie’n oorsiguitstalling van sy werk oor 50 jaar by die Gallerie Pieter Scheenloop Galery in die Groenkloof Plaza, in Pretoria aan.
Die uitstalling, van 24 Junie tot 24 Julie, verteenwoordig Tienie Pritchard se loopbaan met werke vanaf sy beginjare tot nou.
Op 29-jarige ouderdom het hy die groot sprong gemaak om uit sy vaste betrekking te bedank om voltyds beeldhouwerk te doen. Hy het hom hier in die Hartbeespoort omgewing kom vestig omdat die rustige landelike omgewing van destyds ideaal was vir ‘n kunstenaarsbestaan.
Tienie Pritchard het in die vroeë 1970’s bekendheid verwerf met sy naakte beeldegroep vir die Departement van Binnelandse sake se Civitas gebou in Pretoria. As gevolg van protesaksie van kerk- en vroue groepe, is die beeldegroep vir dekades weggesteek op die podiumvlak van die Civitasgebou. Ten spyte van hierdie terugslag, het Tienie Pritchard sy passie vir die naakfiguur volhou en sy werke beeld die onrus en stuwing van die menslike gees uit.
Deur die loop van sy stormagtige loopbaan het hy die mensfiguur gebruik om ‘n wye reeks van konsepte te illustreer. Die werke op die uitstalling sluit komposisies in van historiese of mitologiese figure wat soms heroies en soms kontroversieel is, maar ook figure wat die weerloosheid van die mens demonstreer.
Na die hewige polemiek wat in die media gewoed het oor die Civitas beelde, het baie ander openbare opdragte oor Tienie Pritchard se pad gekom. Die grootstes hiervan is die 9 meter George Harrison standbeeld (opgerig ter herdenking van Johannesburg se eeufeesjaar ) by die Eastgate inkopiesentrum in Johannesburg; die 10 m x 3 m oorlogspaneel (wat Suid-Afrika se deelname aan Wêreldoorlog II herdenk) in die oorlogsmuseum in Delvillebos in Frankryk en die 6 meter waternimfe by die Forever Oord in Bela Bela.
Sy kleiner-skaal vrye komposisies is egter die werke wat vir Tienie na aan die hart lê, omdat hulle die kernboodskap van sy nalatenskap verteenwoordig. ‘n Groot versameling van hierdie werke is op permanente uitstalling in die Tienie Pritchard Museum by die Orient Boetiek Hotel in Elandfontein. Die museum is oop vir die publiek en kan besigtig word op afspraak.
Vir meer inligting kontak 073 603 0782.

  AUTHOR
Kormorant

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Bekende in Schoemansville se motor gekaap