Gesin baklei verbete teen aanvallers

So het Willie (62) en Elize Brits (56), en hul dogter Yvette (33), van Schoemansville dié week gesê na hulle Saterdagaand verbete teen twee aanvallers baklei het toe hulle in hul huis oorval is. Die aanvallers het later op vlug geslaan.

Twee man met klapmusse, gewapen met ‘n baton, koevoet en skroewedraaier het kort voor 19:00 Elize en Yvette, in die kombuis van hul huis in Daniestraat in Schoemansville oorval na hulle ‘n glasdeur oopgebreek het.

“Ek en Yvette was besig om te gesels terwyl ek kos gemaak het, toe die twee mans skielik in die binnedeur van die kombuis staan. My eerste reaksie was: Wat maak julle hier?” het Elize aan Kormorant vertel.

“Die mans het in Afrikaans gesê ons moet stilbly of hulle gaan ons seermaak en doodmaak. Willie was bo in die huis besig om rugby te kyk en ek het besluit ek gaan nie stilbly nie en het begin gil.”

Een van die aanvallers het met ‘n koevoet na Elize geslaan en sy kon daarin slaag om die koevoet vas te gryp. Die ander aanvaller het Yvette met ‘n skroewedraaier gestorm toe sy ook begin gil. Albei vroue het verbete met die aanvallers geworstel om die wapens af te keer en aanhou gil.

Willie die gegil gehoor en na die kombuis gehardloop. “Toe ek by die deur inkom, toe lê Elize op die vloer en die aanvaller is besig om na haar met ‘n koevoet te slaan en Yvette is in ‘n worsteling met nog een. Woede het my beetgepak en ek het vir hulle geskree vandag slaan ek julle dood,” het Willie gesê.

“Ek het die kombuistafel gegryp en met krag Elize se aanvaller in die kas vasgestamp. Hy het geval en sy kop teen die kas gestamp. Hy my probeer slaan met die baton, maar net my skouer skrams getref.”

Yvette sê sy het besef die mans het nie vuurwapens nie en het met die aanvaller geworstel om te voorkom dat hy haar met die skroewedraaier steek. “Toe my pa inbars het ek die skroewedraaier gegryp en hom probeer wegstamp. Hy het my van die bankie, waarop ek gesit het, afgeruk en ek het op die vloer geval. En toe storm my pa hom. Toe ek probeer opstaan, het die aanvaller met die koevoet my oor die kop geslaan en toe vlug albei.”

Willie het agter hulle aangehardloop, maar hulle het weggekom. Elize het intussen die buurtwag se hulp ingeroep. “Meer as 20 mense was byna onmiddellik by ons huis. Die buurtwag het mediese hulp vir Yvette gekry wat ‘n ernstige kopwond opgedoen het.”

Die aanvallers het aanvanklik by een deur probeer inkom, maar kon nie daarin slaag nie en het toe die glasdeur se slot gebreek. Die aanvallers het ook die hek se motor buite werking gestel en volgens bure het hulle ‘n silwerkleurige bakkie sonder ligte die erf sien verlaat.

“Ons wil net baie dankie sê aan die Schoemansville buurtwag wat ons so vinnig tot hulp gesnel het en ons bygestaan het. Dit is baie dom as inwoners nie aan die buurtwag behoort nie. Die mense was puik,” het Willie gesê

Sien ook:

Skeerpoort farm attack

  AUTHOR
Daleen van Manen
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Boer en honde baklei terug teen aanvallers