Man se kop met byl oopgekloof in huisroof

Die Uys-gesin van Devalerastraat in Schoemansville is Saterdag in die vroeë oggendure deur vier gewapende rowers oorval terwyl hulle geslaap het, en na die gesin se twee honde vergiftig is.

Johan (28), sy vrou Ylana (32), hul seuntjie, Johan (6) en tweejarige dogtertjie, Ylisma, het almal saam op ‘n matras voor die televisie geslaap toe hulle ongeveer 04:00 deur die rowers oorrompel is.

“Ons het ‘n gesinstradisie om Vrydagaande ‘n ‘krismisbed’ voor die televisie te maak en daar te slaap. Ons het tot so 01:30 fliek gekyk en toe gaan slaap. Ongeveer 03:00 het my honde geblaf en ek is na buite om te gaan ondersoek instel. Ek het vir ‘n ruk by die honde gesit en ‘n sigaret gerook voor ek weer bed toe is,” het Johan dié week aan Kormorant vertel.

Vieruur het Johan wakkergeskrik en die vier mans by hulle in die vertrek sien staan. “Ek het op hulle geskree en toe skree hulle ook en lig die byl om te slaan. Ylana en Ylisma het naaste aan hulle gelê en ek het die kombers gegryp en dit na die rowers gedruk om te voorkom dat hulle my vrou en kind slaan. Die hou het my skrams getref en ek het platgeval. Ek het vir die kinders en Ylana gesê om plat te lê en stil te bly. Klein Johan het vir my gevra of dit boewe is en ek het gesê ja, hy moet maak of hy slaap.”

Die rowers, een gewapen met ‘n vuurwapen, het Engels gepraat en gevra vir die motorsleutels. Die sleutels het op die tafel gelê en toe ek my kop oplig om vir hulle te wys, het een my met die byl oor die kop gekap en toe met ‘n knuppel.”

Ylana sê Johan was vir ‘n ruk bewusteloos na die houe. “Toe hulle hom slaan, het hy bo op Ylisma geval en bewegingloos bly lê. Ek het gedink hy is dood. Ek moes Ylisma onder hom uittrek,” het sy vertel. “Hy het na ‘n ruk geluide begin maak en weer bygekom.”

Van die rowers is terug na die werkswinkel, waar hulle aanvanklik die byl en knuppel gekry het, en kabelbinders gaan haal om Johan vas te bind. Ylana het hulle gesmeek om haar nie vas te bind nie sodat sy die kinders kan kalmeer.

“Klein Ylisma het kort-kort gesê ‘moenie slaan nie'”.

Johan, klein Johan en Ylana Uys.

Die mans het die huis deursoek en wou by Johan weet waar die kluis, Krugerrande, diamante en wapen is. “Ek het aanhou sê ons het nie sulke goed nie. Ek het aangebied om hulle selfs te help om die huis te deursoek sodat hulle kan sien,” het Johan gesê.

Die rowers het twee televisiestelle, elektroniese toerusting, ‘n tablet, juwele en ander toerusting op die gesin se Nissan Navara bakkie gelaai en toe vir Ylana ook vasgebind. “Net voor hulle weg is, het een by Ylana kom buk en gesê ‘sorry mommy, we are going now.'”

Na die rowers weg is, het klein Johan ‘n kantsnyer in die kombuis gaan haal en sy ouers losgesny.

“Hy het ons selfs opgehelp. Hy was so kalm. Hy is ons klein held.” Die gesin het toe hul twee honde buite dood aangetref.

Hoewel die hele insident slegs sowat ‘n halfuur geduur het, het dit vir die gesin soos ure gevoel. “Ek dink dit is die hardste wat ek en Johan nog gebid het. As my man en kinders iets moes oorkom, sou ek dit nie gemaak het nie,” het ‘n steeds emosionele Ylana gesê.

“Ek wil net al die mense bedank wat ons Saterdag en die res van die week onstersteun het. Selfs slagoffers van ‘n huisroof verlede week, het ons besoek om met ons te praat. En die buurtwag was wonderlik.”

Die gesin se bakkie is ‘n ruk na die aanval in die omgewing van die Melodie-plotte naby Village Mall gevind. Dit is erg beskadig.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie en die Hartbeespoort polisie ondersoek ‘n saak van gewapende huisroof.

Sien ook:

House-breakings a concern

Gesin baklei verbete teen aanvallers

Skeerpoort farm attack

  AUTHOR
Daleen van Manen
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Man (60) se kop met byl oopgekloof in De Wildt-plaasaanval

Thanx for your referral. We have no doubt your friends will love our newsletter as much as you!

Don't forget to verify your email.

to our FREE newsletter
SUBSCRIBE to our FREE newsletter.




SELECT your titles:

Kormorant


Your details:


Your friends:

I didn't sign up for this
I'd like to see and read more... (Please indicate in comments section below)
I'm relocating (Please indicate where to)
Other