Te bang vir aanstoot

Inwoners van Hartbeespoort en omgewing sien al vir weke uit na die langverwagte episode oor die hiasinteplaag op 50/50 – die SABC se nommer een omgewingsprogram. Toe die program opgeneem is – weke gelede – is die verwagting geskep dat dit die een stukkie publisiteit sal wees wat die regering sal aanspoor tot aksie.
Wat ‘n nat vadoek!
Talle onderhoude is gevoer, maar alles wat net geruik het na kritiek op die regering of die department, is uitgeredigeer. Die hele hiasintekrisis is aangebied as die ongelukkige sameloop van omstandighede waaroor die department en die minister geen beheer gehad het nie. Die Department van Water en Sanitasie (DWS) se woordvoerder, Sputnik Ratlau, het ‘n simpatieke oor gevind en sy verduideliking dat die redelik suksesvolle Harties Metse A me program gestaak is weens “arbeidsonrus” is klakkeloos aanvaar – dit terwyl dit ‘n onwettige staking was deur ‘n paar tydelike werkers wat maklik vervang kon word toe hulle aangedring het op permanente poste. Dit was bloot ‘n verskoning. (Die Working 4Water- projek gebruik nou nog tydelike werkers.)  Daar was geen melding van die feit dat die program maklik afgeskaal kon word as dit werklik te duur geword het nie. Ook nie dat sedert die program net meer as ‘n jaar gelede gestaak is, die hiasintbedekking  van die dam van sewe present tot meer as 30 persent van die oppervlak gestyg het nie.
Alle verwysings na DWS en Department Omgewingsake wat in gebreke bly om te voldoen aan die statutêre verpligtinge ingevolge die Biodiversiteitswet om indringerplante te bestry, is sorgvuldig uitgeredigeer. Al is onderhoude aan lede van die gemeenskapspoging om iets omtrent die saak te doen, toegestaan, is dit so half terloops aangebied, met die duidelike implikasie dat die poging maar eintlik futiel is. En die oplossing wat 50/50 aanbied? Bestry die besoedeling in die inlope van die dam sodat die hiasinte nie meer gevoed word nie en van honger omkom!
Is dit toevallig dat dit dieselfde oplossing is wat die minister aanbied om weg te kom van DWS se verantwoordelikheid om die hiasinteplaag te bestry? Enige mens met ‘n greintjie gesonde verstand sal besef dat so ‘n indirekte manier om die plaag te bestry, oneindig lank sal neem om enige resultate, indien enige, te toon. Mens kan net sowel probeer om die dam met ‘n teelepel leeg te skep. Enigiemand wat dit voorstaan, besef ooglopend nie dat hoewel besoedeling en die hiasinteplaag met mekaar verband hou, dit eintlik twee verskillende probleme is wat verskillende oplossings verg nie.
In die geheel gesien was 50/50, kleurvol soos dit aangebied is, te gesteld daarop om polities korrek te wees en te bang om aanstoot te gee. Maar wat, dis net die ryk mense om die dam wat die toerismepotensiaal van die dam wil uitbuit vir eie gewin, wat skade ly. En dit maak nie saak as hulle aanstoot neem nie.

Sien die 50/50 program hier:

  AUTHOR
Willie Meyer

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Armand performs