Bejaarde vrou op plaas in Kalkheuwel aangeval

Die vrou, wat nie haar naam genoem wil hê nie, was 08:00 buite om haar hond te voer toe die twee mans haar oorrompel het. “Een het ‘n balaklava gedra en die ander se gesig was met doeke bedek. Een het ‘n pistool op my gerig en hulle het my die huis ingesleep en beveel om te gaan lê,” het sy aan Kormorant vertel.
Die rowers het haar hande met ‘n tou vasgebind en die huis begin deursoek. “Ek kon my hande loswikkel en toe hulle weer na my toe kom en dit sien, het hulle my hande en voete styf met elektriese kabel vasgebind en ‘n kombers oor my gegooi. “Ek kon hoor hoe hulle die kaste uitgooi en deursoek. Ek het gevra of hulle geld wil hê en vir hulle gesê om in my handsak te kyk. Hulle het my van die sitkamer na die slaapkamer en badkamer gesleep. Al my bankkaarte was op die bed uitgegooi en die een rower het met die geld uit my beursie in sy hand gestaan en dit voor my rondgeswaai asof hy vra of dit al is. Ek het vir hulle gesê daar is nog kontant in ‘n kassie. Die gewapende man het kort-kort die loop van die vuurwapen teen my kop of keel gedruk. Hy het Engels gepraat, maar die ander een het nie ‘n woord gesê nie.”
Na die rowers die geld in die kassie gekry het en ‘n versameling ou munte en note gevind het, is hulle weg.
“Hulle het nie in die televisiestel, skootrekenaar of my juwele belang gestel nie. Hulle wou net geld hê.”
Sy kon daarin slaag om haar voete te bevry en het haar selfoon in die sitkamer gevind en hulp ontbied. Die Muldersdrift polisie was kort daarna op die toneel.
Sy het kneusplekke opgedoen, maar geen ernstige beserings nie.
Die slagoffer versoek dat enigeen wat dalk ou munte of note optel, of dalk te koop aangebied word, onmiddellik die Mulderdrift of Hartbeespoort polisie kontak.
“Dalk probeer hulle die note gebruik. Broederstroom en Kalkheuwel gaan tans swaar gebuk onder misdaad en die mense moet gevang word. Ons vrede word van ons ontneem,” het sy gesê.

  AUTHOR
Daleen van Manen
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Boer sterf na plaasaanval