Man slinger gewapende rowers van bakkie af in kapingspoging

    Nikki Muller

    “Met ‘n 9 mm-pistool teen my kop het ek gedink ek gaan in elk geval doodgaan, dan vat ek hulle saam,” het
    Nikki Muller, eienaar van Kwagga Karwas in Brits, dié week aan Kormorant vertel.
    Nikki was ongeveer 19:00 op pad huis toe vanaf sy besigheid, waar hy die elektrisiteit gaan aansit het na dit afgegaan het, toe die mans hom op die hoek van Magaliesbergweg en Sablestraat oorval het.
    “Ek wou by Sablestraat indraai en het gewag vir ‘n motor wat van voor kom. Net toe ek wegtrek, toe sping twee mans op die trappie aan die linkerkant van die bakkie en een met ‘n vuurwapen aan my kant. Hy het my om die nek beetgekry, die vuurwapen teen my kop gedruk en my uit die bakkie probeer trek. Ek het besluit ek stop nie. Ek het die petrol getrap en heen-en-weer oor die pad geswenk. Die twee aan die linkerkant het afgevlieg, en toe skree die een wat my beet gehad het “I’m going to kill you, you @#%!*&%? white boer”.
    “Ek het besef ek gaan nou doodgeskiet word en toe besluit ek dan gaan hy saam dood. Ek het die bakkie oor ‘n groot rots en grondwal in die bosse langs die pad ingejaag en toe slinger hy ook die bosse in. Ek het geweet ek het moeilikheid as die drie my nou beetkry en toe spring ek uit die bakkie en hol volspoed na my huis toe wat net so blok weg was.”
    Nikki het sekuriteitsdienste, polisie en die buutwag gekontak, maar die rowers het gevlug.
    “Dit was net die Here se genade dat dinge so verloop het. Selfs my bakkie het nie eers skade opgedoen nie.”
    Kormorant het die Brits polisie vir inligting oor die voorval gevra, maar hulle het nie gereageer nie.

      AUTHOR
    Daleen van Manen
    Journalist

    Latest News

    COMMENTS

    Top
    Recommended Story x
    Tronkbewaarder pleeg selfmoord na passie-foto’s op Facebook