Kom kyk die Clivia-prag

Johan Theron

Johan Theron, ‘n bekende Clivia-kweker spog met meer as 4 000 Clivia-plante en plantliefhebbers kom jaarliks van heinde en verre om die skouspel te sien en van sy spogplante te koop.
Die Therons het sowat 17 jaar gelede die leë stuk grond gekoop en dit in ‘n lushof (wat die plaas se naam gestand doen) omskep.
Johan Theron (75) het in die omgewing op ‘n snyblomplaas grootgeword en na hy ‘n huis gebou en tuin aangelê het, het die Clivia-gogga hom gebyt toe hy een plant by sy skoonma gekry het. Dié plant het 21 plante gelewer en was die begin van ‘n suksesvolle kwekery. Vandag verskaf Johan aan verskeie kwekerye en die publiek.
“Ons het hier kom bly omdat my gestremde seun in die PV3 Oord net langs ons woon. Toe ek aftree, moes ek besig bly en die Clivias was die ideale tydverdryf wat mettertyd ‘n besigheid geword het,” sê hy.
Johan is een van min Clivia-kwekers wat die gewilde brons Clivia kweek. Hy kweek sy eie Clivias en is al soveel soos R11 000 per plant op ‘n vendusie aangebied. Hy het tot al 14 000 Clivia-plante op sy plasie gehad. “Maar dit is net te veel blomme,” lag hy.
Elke jaar aan die begin van Augustus, net voor blomtyd, vee Johan eiehandig elke blaar van elke plant met ‘n spiritusmengsel af. Nie net laat dit die blare mooi vertoon nie, dit hou sommer ook allerhande peste en plae weg. Die blomtyd is vanaf ongeveer middel Augustus tot September, afhangend van weersomstandighede.
“Clivias is eintlik maklike plante om te versorg. Hulle wil nie te veel water of son hê nie. Hulle groei die beste in 80% skaduwee en het net so twee keer per jaar, in Mei en Junie, voeding nodig. Goeie dreinering is belangrik en sorg dat hulle nie deur boorwurms aangeval word nie.”
Een van Johan se plante is twee jaar gelede as die Beste Blom op die jaarlikse Suid-Afrikaanse Clivia-skou aangewys, en was tweede in die Beste Plant-kategorie.
Clivias is inheems aan suidelike Afrika en daar word jaarliks verskeie Clivia-skoue landwyd gehou, waar entoesiaste en versamelaars nie skroom om tot R20 000 vir ‘n plant te betaal nie.
Lushof is eerskomende naweek en die naweek van 2 en 3 September oop vir besigtiging. Skakel Johan op 082 568 1779 vir meer inligting.

  AUTHOR
Daleen van Manen
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Boer sterf na plaasaanval