Jessy, die wonderwerk-kind

    Dit is die woorde van die vyftienjarige Jessy Smal van De Wildt, wat op Vrouedag, ‘n maand gelede, in ‘n ernstige ongeluk op die Van der Hoffpad betrokke was en vir wie medici min hoop op oorlewing gehad het.
    Jessy het haar rug gebreek, ernstige breinbeserings opgedoen en haar een long het platgeval. Sy was vir ses dae in ‘n koma in die intensiewesorgeenheid in ‘n hospitaal in Johannesburg. Mediese spesialiste het haar ma, Madeleine, gewaarsku dat indien Jessy sou oorleef, sy nog ten minste agt maande in die hospitaal sal spandeer voor sy na ‘n rehabilitasiesentrum gaan.
    En toe word Jessy uit die koma wakker en ‘n wonderwerk gebeur! “Van haar eerste woorde was: ‘Ek wil huis toe gaan.’ En sy wou met alle geweld die nekstut afhaal,” vertel Madeleine.
    “Toe ek wakker word kon ek nie verstaan hoekom ek in die hospitaal is nie. Ek het nie eers geweet ek het ‘n breinoperasie gehad tot ek die letsel op my kop op ‘n foto gesien het nie,” lag die sprankelende kind. Haar oë is vol lus vir die lewe – iets wat sy nooit weer as vanselfsprekend sal aanvaar nie.


    “Ek was vir ‘n ruk maar baie deurmekaar. Terwyl ek in die koma was, het ek hallusinasies gehad. Ek het gedroom ek was in ‘n ongeluk, maar by OR Tambo-lughawe en dat hulle my vir ‘n terroris aangesien het. Die ongeluk waarin ek en my twee vriende was, het eers mettertyd teruggekom. Ek besef nou hoe siek ek was en hoe gelukkig ek is dat ek leef.”
    Sy is ‘n week gelede uit die hospitaal ontslaan en sterk nou tuis aan. Maar daar is geen keer aan haar nie, sê haar ma. “Ek knyp net oë toe.”
    Jessy sukkel met rugpyn, ‘maar dit is vanselfsprekend. Ek het my rug gebreek,” sê sy. “En weens die pille om konvulsies te voorkom, kan ek nie sterk pynpille drink nie. En dan het ek hoofpyne, maar ek gaan gesond word,” sê sy met oortuiging.
    Sy is selfbewus oor haar een oog wat nog effens skeel kyk, maar ook dit word daagliks beter. “Ek het nie eers besef ek is skeel nie, tot ek uiteindellik uit die hospitaalbed toegelaat is om vir die eerste keer badkamer toe te gaan. Toe ek myself in die spiëel bekyk, dog ek ‘wat de hel’ toe ek die oog sien,” lag sy.
    “Ek weet hoe gelukkig ek is. My kop is met die impak deur die windskerm en ek het nie eers ‘n sny aan my gesig nie. My hele lewensuitkyk het verander. Ek weet nou ek is hier vir ‘n rede. Ek wil nou dadelik al my drome aanpak. Ek wil reis en dalk modelwerk doen… maar dié oog moet net eers regtrek!”
    Vir ma Madeleine is daar net volslae dankbaarheid. “Gisteraand toe ek haar rug met perdesalf insmeer toe sê ek vir haar ek is so bitterlik bly ek kan nog aan haar vat… sy was so amper van my af weggeneem.’
    Jessy se nekstuk word hopelik oor sowat twee weke verwyder en sy sal middel Oktober terugkeer Hoërskool Brits toe. “Almal is verstom oor haar herstel, die dokters, die paramedici en dié wat haar na die ongeluk in die hospitaal gesien het. My kind is ‘n lopende, pratende wonderwerk,” sê Madeleine.
    Intussen kan Jessy nie wag om terug te gaan skool toe nie. “Ek vat dit maar kalm, maar ek gaan heeltemal gesond word en ek gaan léwe!”

    Jessy vroeër in die hospitaal.

    Sien ook:

    “Sy is ‘n lewende wonderwerk!” – 15-jarige Brits meisie herstel na sy kritiek in gru-ongeluk beseer is

    Hoërskool Brits meisie kritiek na gru-ongeluk by Hartbeespoort

      AUTHOR
    Daleen van Manen
    Journalist

    Latest News

    COMMENTS

    Top
    Recommended Story x
    The lion experience