Brits, Hartbeespoort het van die meeste plaasaanvalle

Tydens die aankondiging van Suid-Afrika se jongste misdaadstatistiek verlede week, is die statistiek oor plaasaanvalle en -moorde nie deur die polisie bekend gemaak nie. Dr Pieter Groenewald, partyleier van die Vryheidsfront Plus het die statistieke van die minister van polisie, Fikile Mbalula aangevra en dit is aan hom gegee op voorwaarde dat dit nie openbaar gemaak word nie.
Volgens die statistiek vir die afgelope jaar was daar 74 plaasmoorde en 638 plaasaanvalle. Plaasmoorde het met 27.5% toegeneem en plaasaanvalle met 22.9%.
Volgens die verslag, is Brits, Hartbeespoort, en die nabygeleë Kameeldrift en Rustenburg van die brandpunte vir plaasmoorde en -aanvalle.
Na die inligting wel bekend geword het het die polisie Vrydag gesê die verslag was nie veronderstel om openbaar gemaak te word nie.
Die werkswyse van die plaasaanvaller word in die dokument bespreek. Hulle slaan skynbaar meestal toe as hul slagoffers slaap en kry gedwonge toegang tot die persele. Die aanvalle en moorde vind hoofsaaklike met vuurwapens, messe en skerp voorwerpe plaas en die slagoffers se bene en arms word vasgebind.
Die meeste aanvallers is tussen 25 en 35 jaar oud en die slagoffers meestal ouer as 50.
Kort na die misdaadstatistiek verlede week bekend gemaak is, sonder dié van plaasmoorde en -aanvalle, het Groenewald in ‘n verklaring gesê die feit dat die polisieminister nie dié statistiek bekend gemaak het nie, wek die indruk dat daar ‘n aansienlike toename was en dat die polisie wegskram om dit bekend te maak.
“Dit is onverstaanbaar dat die polisie nie die verslag wou bekend maak nie en dit skep die indruk dat hulle die skerp toename in plaasmoorde en –aanvalle wou verbloem. Die belang van plaasmoorde is dat landbou ? strategiese bedryf is wat voedselsekerheid daarstel. Die algemene moordsyfer in Suid-Afrika is nou 34 per 100 000 van die bevolking, maar ten opsigte van boere is dit ongeveer 130 per 100 000. Daarom die klem op plaasmoorde.”

  AUTHOR
Daleen van Manen
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Boer sterf na plaasaanval