Poppie se ma, stiefpa beskuldig mekaar

Hy word saam met Poppie se ma, Louisa, van moord op die driejarige dogtertjie aangekla. Hulle staan ook tereg op aanklagte van kindermishandeling en aanranding met die doel om Poppie en haar vyfjarige boetie ernstig te beseer.
Poppie is in Oktober verlede jaar dood by die Brits-hospitaal aangebring. ‘n Nadoodse ondersoek het bevind dat massiewe breinbeserings haar dood veroorsaak het. Haar hele lyfie was vol kneusplekke van verskillende ouderdomme.
Koekemoer en Louisa, Poppie se ma, het mekaar dié week oor-en-weer tydens die hofsaak vir die mishandeling van Poppie en haar vyfjarige boetie beskuldig.
Volgens Koekemoer was daar die oggend van Poppie se dood ‘woorde’ as gevolg van ‘n glips wat Poppie in die bed gehad het. Hy het getuig dat Louisa met Poppie baklei het, dat dit gelyk het of Poppie by die kamerdeur “uitgegooi” is en dat haar ma haar “half in die bad laat val” het.
Sy het glo haar kop gestamp. Hy het toe gaan inkopies doen en terug by die huis, het hy Poppie in die hoek sien lê. Louisa het glo aan hom gesê Poppie speel al weer dood.
Op haar beurt het Louisa aan die hof gesê Kobus het Poppie se kop ‘n paar dae vantevore en die dag voor haar dood, teen ‘n kas gestamp en haar geskop die aand van haar dood. Sy het ontken dat sy met Poppie geraas het oor ‘n glips in die bed. Volgens haar het Poppie op die mat voor die televisie gelê toe Kobus huis toe gekom het.
Hy het haar glo toe in die maag geskop. Sy het getuig sy is buite na die motor en toe sy terugkom was Poppie nie meer op die mat nie. Sy het Poppie in die badkamer op die vloer gekry en haar mondjie was blou. Poppie was reeds dood. Sy het getuig sy het vir Kobus gesê hulle moet hospitaal toe.

Sien ook:

Poppie se besering te veel om aan te teken, getuig dokter

Louisa beweer Koekemoer het gereeld die kinders geslaan, geskop en Poppie se kop teen kaste gestamp. Koekemoer se regsverteenwoordiger het haar gevra hoekom sy nie die kinders gevat ek gevlug het nie, waarop sy geantwoord het sy het nie geweet wat om te doen nie. Sy het gesê sy was te bang om iets te doen aangesien Koekemoer glo gedreig het om haar hele familie dood te maak. Sy wou ook nie oor hom gaan kla nie want sy was bang hy maak die kinders nog seerder.
Koekemoer het getuig dat hy aanvanklik die kinders met ‘n paplepel gedissiplineer het. Hy het aan die hof gesê dat hy hulle voorheen met die plathand geslaan het, maar dat hulle hom half uitgelag het. “Hulle was half immuun teen die plathand,” het hy gesê.
Op die staat se vraag hoe die kinders pak slae gekry het, het hy gesê houe is uitgedeel tot die kind huil en dan nog meer tot hulle stilbly en jammer sê.
Hy het getuig dat Poppie ‘n paar dae voor haar dood ook opgehou asemhaal het. Hy het haar geskud tot sy haar oë oopgemaak het.
Hy het vroeër vertel hoe Poppie snags geskree het as sy nagmerries kry en dan het sy in die huis rondgeloop. Hy het glo gehoor hoe sy teen die trappe afval.
‘n Forensiese patoloog het dié week getuig dat Poppie van der Merwe baie ernstige houe teen haar kop gekry het. Prof Gert Saayman het gesê daar was massiewe bloeding rondom haar brein en dat die kopbesering ‘n paar uur voor haar dood toegedien is.
Volgens die patoloog kan ‘n stomp voorwerp of vuis moontlik die beserings veroorsaak het,
Hy het gesê ‘n val teen ‘n plat opervlak kan nie uitgesluit word nie en deur ‘n kind met mening teen ‘n muur te gooi, is ook ‘n meganisme wat by sulke beserings geïmpliseer word. Hy het ook bevind dat geweld met ‘n stomp voorwerp haar buikbeserings veroorsaak het.
Die saak duur voort.

  AUTHOR
Kormorant

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Poppie se ma en stiefpa se verhoor begin