Poppie se ma, stiefpa skuldig aan moord

Louisa Koekemoer saam met haar man, Kobus Koeokemoer, Foto: Jacques Nelles, Citizen

Regter Bert Bam het in sy uitspraak gesê daar is oorweldigende bewyse dat Kobus en Louisa Koekemoer die kinders aangerand en mishandel het.
Hulle sal moontlik op die volgende hofdatum, op 28 Februarie, gevonnis word.
In sy uitspraak het Bam gesê Kobus Koekemoer se weergawe dat hy Poppie en haar vyfjarige boetie net gedissiplineer het, onrealisties is en dat Louisa se trane tydens haar getuienis, hom nie beïndruk het nie.
“Beide beskuldigdes het ‘n plig gehad om die kinders te beskerm en nie een van die beskuldigdes het hulle beskerm nie,” het hy gesê.
Die driejarige Poppie is op 25 Oktober 2016 dood by die Brits-hospitaal aangebring. ‘n Lykskouing het bepaal dat sy weens ‘n stompgeweld-hoofbesering dood is. Haar hele lyfie was vol bloukolle.
Poppie het bloeding op die brein gehad wat vermoedelik enkele ure voor haar dood deur ‘n hou teen haar koppie veroorsaak is.
Kobus en Louisa het albei skuld op die aanklagte ontken en mekaar tydens die verhoor beskuldig.

Kobus Koekemoer

Volgens die klagstaat het albei die beskuldigdes die kinders aangerand en die Koekemoers het in September 2016 van Orania na Brits gevlug waar Poppie ‘n maand later vermoor is.
Bam het in sy opsomming van die getuienis gesê Poppie se boetie, nou ses jaar oud, het in camera getuig dat Kobus vir Poppie doodgemaak het. Hy het vertel hoe Kobus glo Poppie se kop in die toilet gedruk en die toilet dan gespoel het. Die seuntjie het getuig Poppie het daarna op die mat bly lê en nie weer beweeg nie.
Daar was ook getuienis dat die seuntjie vertel het hoe Kobus hulle geskop en hom aan die ore rondgesleep het. Hy is ook glo in yskoue badwater gesit of met ‘n tuinslang gespuit as hy woede-uitbarstings gekry het.

Sien ook: Poppie se ma en stiefpa se verhoor begin
Bam het gesê albei die beskuldigdes was teenwoordig toe Poppie noodlottig beseer is and al blameer hulle mekaar, is elkeen se weergawe van hoe Poppie die hoofbeserings opgedoen het, dieselfde.
Die Koekemoers het in Oktober verlede jaar uit Orania na Brits gevlug toe mishandeling van die kinders vermoed is. Bam het gesê dit is duidelik dat die intensiteit van die besering toegeneem het na die familie Brits toe getrek het en dat daar oorweldigende bewyse is dat albei die kinders aangerand en mishandel het.
Volgens Kobus se getuienis het Louisa die dag van Poppie se dood haar uit die kamer gegooi na sy glo haar bed bevuil het en haar kop het die kosyn getref. Louisa het haar toe glo bad toe gesleep waar Poppie in die bad gegly en weer haar kop gestamp het.

Louisa Koekemoer

Louisa, op haar beurt het Kobus beskuldig van aanranding op die kinders. Sy was glo bang vir hom het nie geleentheid gehad om hulp te soek nie. Sy het getuig Kobus het Poppie onder meer teen die muur gegooi of haar kop daarteen gestamp.
Na afloop van die hofsaak, is daar “Well done” in die hof uitgeroep.

  AUTHOR
Daleen van Manen
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Poppie se ma, stiefpa beskuldig mekaar